2 maande gelede
Ons taal behoort aan ál sy sprekers
 ~ 

DIE Afrika-landskap tussen Aliwal-Noord, Barkly-Oos en Elliot is ’n mooi en vry landskap waar Afrikaans nog onversteurd en onbewus voortleef van die huidige gekibbel oor die voortbestaan van dié taal.

Dis ’n vry landskap met singende voëls waar die reën vrylik en gereeld met minimale skade voorkom.

Dis ’n vry landskap, waar merino skape, beeste en wilde diere vrylik teen die hange van die Malutiberge wandel. Dit is ’n vry landskap wat vryheid en lewe aan sy pragtige plantegroei en natuurlewe bied.

Dit is ’n vry landskap waar Afrikaanse plekname uit vervloë dae jou vrylik vermaak en jou (op ’n Zuma-wysie) hê-hê-hê-hê laat lag. Dit is ’n vry landskap, wat jou vertel van die streek se inner­like, menslike karakter.

Name soos Koffiefontein, Slagterskop en Peertjiesdraai is ’n paar Afrikaanse plekname wat hierdie streek ’n tipiese Karoo-karakter gee.

Dit is ’n vry landskap waarvan die Afrikaanse karakter jou bewondering vir dié streek vergroot – amper soos die digter Antjie Krog die golwende rooi gras (Themeda triandra) van die Vrystaatse vlaktes bemin.

In Barkly-Oos stop ek vir petrol en word vriendelik deur ’n Xhosa-man in pragtige Afrikaans gehelp.

Ek koop ’n koerant en word weer in welgevormde Afrikaans gehelp.

Sowat 20 km voor Elliot stop ek en bel om te verneem waar my oornag-slaapplek, Mount Shadow, is. ’n Wit Afrikaanse man antwoord die foon en begelei my in Afrikaans tot by my bestemming en oornag-slaapplek.

Gedurende aandete vra ek? Xhosa-man wat hy dink van die baie Afrikaanse plekname in dié omgewing. Of hy dink dié plek­name moet verander word.

Soos ’n tipiese Madiba slaan hy ’n versoenende rigting in en sê die oënskynlik botsende begrippe soos transformasie en diversiteit kan en moet konstruktief versoen word.

Dat Afrikaanse plekname ’n plek moet kry in ’n Suid-Afrika ná apartheid net soos enige ander plekname. Dat Afrikaans nie net weggewens kan word nie, want dit is en sal deel van ons geskiedenis en gedeelde erfenis bly.

Dat Afrikaans aan ál sy sprekers behoort en dat die regering ’n plig het om dié taal op alle vlakke te bevorder om sodoende die ideaal van veeltaligheid soos verskans in die Grondwet te verwesenlik.

Wyse woorde van ’n vrye man in ’n vry streek wat die verskillende skakerings van ons ontluikende demokratiese argitektuur meesterlik verstaan en akkommodeer.

Gedurende slapenstyd het ek my skootrekenaar weer nader getrek en vrylik op die internet rondgeswerf.

Ek kom toe af op ’n brief oor die groeiende “Stellenbosse taalstryd” wat ’n teenoorgestelde argument huldig as wat die Xhosa-man geartikuleer het.

Die briefskrywer gee (valslik?) voor die “onheilige” alliansie tussen bruin en wit “om Afrikaans te red” is ’n mislukking en bruines is daarvoor te blameer.

Die brief lui: “Afrikaners sou bydra tot die ekonomiese opheffing van bruines en sou in ruil Afrikaans se kwynende rol help ondersteun”.

Dié sentiment sluit aan by die (konserwatiewe) narratief dat Afrikaans deesdae met ’n sambok geslaan word. Dat dié taal alleenlik sal kan oorleef indien dit eksklusief in Afrikaansmedium skole en universiteite beskerm sou word.

My punt is: Daar was nooit so ’n ooreenkoms nie, want Afrikaans behoort nie net aan wit en sogenaamde bruines nie; dit behoort aan ál sy sprekers, die Afrikaanse Xhosa-mense ingesluit.

Die regse taalstryders moet Afrikaans soos in die bogenoemde vry landskap bevry, want geen regdenkende Suid-Afrikaner wil beperk wees tot ’n Afrikaanse enkelme­diumskool of -universiteit nie.

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters