3 maande gelede
Ons faal die jeug, en die jeug faal hulself
Foto ter illustrasie  ~ 

EK LEES die woorde: “Het ons die jeug gefaal?” En toe voeg ek by: “Of het die jeug hulself gefaal?”

Met hierdie inskripsie deur Archie Vergotine, oudpresident van die eens trotse organisasie die Kaaplandse Professionele Onderwysersunie (KPO), was ek ge-trigger om hierdie rubriek te skryf.

(So terloops, soms wonder ek hoe die onderwys in veral bruin skole sou gewees het as die KPO bly voortbestaan het.)

Ek is van mening dat ons die jeug faal en dat die jeug hulself faal. Dit sny bitter skerp na albei kante toe.

Laat ons eerlik wees, Jeugdag is besig om te vervaag onder die jong mense. Die politici se retoriek op Jeugdag het my weer laat verstik in my bunny chow.

Die clichés van “die jeug is die toekoms” en “die jeug is die leiers van die toekoms” is al holrug gery.

Ja, die land en sy mense het die jeug in vele opsigte gefaal. Neem maar net die werkloosheid onder die jeug.

Statistiek toon byna 50% van jong mense is werkloos. Wat baat dit jy is geleerd, maar daar is geen werkgeleenthede nie? Wat help kontrakte as dit tot ’n einde kom?

Pres. Ramaphosa wil internskappe skep om jong mense werkgeleenthede te gee. En as die internskap tot ’n einde kom... quo vadis (waarheen gaan jy?)

Kry eers iets in plek vir die era ná kontrakte en internskappe.

Die onderwysstelsel faal in menige opsig die jongmense. Jeugdag, wat in die jare voor die koms van ons demokrasie in kleur gevier is, word glad nie meer gevier nie.

Want sien, daar is bitter min om te vier. Om dinge te vier wat nie ewigheidswaarde het nie, baat nie. Dis ’n futiele oefening.

Zolile Hector Pieterson was maar ’n skrale 13 jaar oud toe hy geskiet is in die riots van sy tyd.

Die 13-jarige van vandag weet nie eens waar die Wêreldbeker-sokkertoernooi vanjaar gespeel word nie. Laat staan nog waarom Jeugdag gevier word.

Is dit dalk omdat hulle opvoeders nalaat om die jeug in te lig?

Is dít waarom Angie Motshekga, die minister van basiese onderwys, die vak geskiedenis verpligtend wil maak vir gr. 10 tot 12?

Voor 1994 het elke dorp ’n “CO” (youth movement) gehad. Die Cape ­Youth Congress (Cayco), Layco, Moyco... maak die lysie langer.

Hierdie organisasies was effektief deur die jeug ge-run. Hulle het werklike verskille in hul gemeenskappe gemaak – die jeug is polities opgevoed en betrokke gehou.

Euwels soos tienerswangerskappe, dwelmmisbruik en misdaad was minimaal. Vandag is dit feitlik die norm dat jong mense deurmekaar raak met dwelms soos dagga, Mandrax en tik.

Ons skole verval in anargie weens die gebrek aan dissipline en ondersteuning aan opvoeders sowel as leerders.

Tieners in skole raak swanger.

Vele jong seuns kyk op na die merts as rolmodelle en word van kleins af gangsters. Waar gaan dit alles eindig, want die politici het geen politieke wil om die jeug te red van totale ondergang nie.

Tog is alles nie gedoem nie.

Die Nuwe Suid-Afrika het geleenthede vir jong mense gebring.

Hoewel dit nie genoeg is nie, is dit daar. Dis tyd dat ons jong mense die geleenthede aangryp.

Daar is die Funza-beurse en NSFAS-studentefondse, asook gratis onderrig, selfs vir universiteite.

Die onus rus egter op die regering en besighede om vir die afgestudeerde jeug werkgeleenthede te bied of entrepreneurskap te bevorder.

Ons het die jeug nodig as ons ’n land wil hê wat internasionaal kan kompeteer.

Ons benodig jeugdiges wat ware leiers is.

Maar dan moet ons eers die uitdagings van die era ná 1994 die hoof bied.

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters