10 maande gelede
Ons bewerkstellig ons eie ondergang
 ~ 

WAT het die volgende mans gemeen: Imran Khan, Romário, Vitali Klitschko, Arnold Schwarzenegger en Manny Pacquiao?

O, én George Weah.

Antwoord: Almal was skatryk sport-sterre voordat hulle politici geword het. (Weah is onlangs verkies tot president van Liberië.)

So, voordat hulle tot die politiek toegetree het, was hulle almal in die vermaaklikheidsarena.

Een van die teorieë oor die funksies van die media is dat dit onder meer afleiding bied. Dus, dit voer die verbruiker weg van die realiteite van die alledaagse.

Sport is een van die vernaamste vorms van afleiding wat die media bied. En sokker is ongetwyfeld dié grootste – dís waarom Romário en Weah onder die top-tien sportsterre is wat die politieke arena betree het.

Hul salarisse kan nie naastenby vergelyk word met dié wat hulle as sokkerspelers gebied is nie. Hul invloed en mag as politici is egter baie groter, veral in die lande waar hulle hul invloed laat geld.

Maar is hulle bekwaam genoeg om in beheer te wees van by­voorbeeld ’n land of ’n stad? Daar is immers ’n hemelsbreë verskil tussen diplomaat speel en sokker speel. (Vir hul ondersteuners is die vraag natuurlik irrelevant.)

Een van die bemarkingsverskynsels wat in 2017 bestudeer is, is dat sport-entoesiaste meer en meer daarop aandring om deel te wees van die aksie. Hulle wil dus meer as net Messi se trui met sy nommer daarop dra; hulle wil ’n “insider’s view” hê van wat aangaan.

Dit wissel van postings op sosiale­media-forums tot die mees gesofistikeerde hoeke wat TV-kameras gedurende ’n wedstryd kan bied. Nóg ’n verskynsel is dat die bewonderaars van sekere sportsterre bereid is om die belaglik hoë pryse te betaal vir produkte wat deur hul helde bemark word. (“Helde”, want in dié stadium is daar nog weinig heldinne in sport.)

Dié scenario is natuurlik ’n bemarker se droom: Die agent van die sport-ster én hyself is in ek­stase, want die bedryfsekonomiese beginsel van vraag en aanbod geld dan mos. En almal lag heelpad bank toe – behalwe natuurlik ons arme siele wat ons sporthelde op ’n pedestal plaas.

In Indië, byvoorbeeld, ag sekere volgelinge Sachin Tendulkar as die god van krieket.

In Desember is berig dat Mesut Özil aandring op ’n salaris van ongeveer R4 998 798 van Arsenal, sy klub. Per week.

Dít is ’n hele paar k*k­huise vol geld. En wat is Özil se bydrae tot die welvaart van die samelewing? Ongeveer ef-ôl.

Elke tweede maand sit ek in ’n lang tou by ’n staatskliniek om my skoonma se medisyne af te haal.

Heelwat van ons is mans, en die meeste is in die kleure van hul gunsteling-sokkerspan of dra die brand van tekkie wat deur sy gunsteling-speler bemark word.

Terwyl ons wag, is daar gewoonlik ’n ge-moan oor die lang wag of dat daar so min verpleegsters aan diens is of oor die regering versuim om gesondheidsdienste te verbeter.

’n Geregistreerde verpleegster in Suid-Afrika verdien ongeveer R210 826 per jaar.

So, in minder as drie dae is Özil se salaris meer as wat ’n Suid-Afrikaanse verpleegster in ’n jaar gebied word.

Ander werkers wat ons as vanselfsprekend aanvaar, is onder­wysers, polisielede, maatskaplike werkers, en selfs die dokters en aptekers in ons staatsinstansies.

Dus, solank ons celebrities – wat ons samelewing eintlik niks bied nie – aanbid ten koste van dié werkers – wat ons samelewing wel iets bied – moet ons nie kla oor k*k diens nie.

En dít is waarom ek die Wêreldbeker-sokkertoernooi vanjaar in Rusland ook nié sal kyk nie.

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters