2 maande gelede
My Kongolese pel laat my diep dink
 ~ 

LAAT ek vandag op ’n versoeningsnoot begin.

Maar eers, alle sterkte aan Naka Drotske. Ek hoop hy en sy familie gaan aanbly op hulle kleinhoewe en dat hy gou herstel.

Die idee vir vandag se rubriek begin in ’n convenience store waar ek vir Christiaan, my Kongolese vriend, raakloop.

Om een of ander rede gaan die gesprek oor Julius Malema en ek vra Christiaan sy mening oor Malema­.

“Malema is ’n gevaar vir Suid-Afrika,” sê hy. “Waarom?” wil ek weet.

Christiaan sê hy is net so skelm soos enige ander politikus, maar hy wil sy weg uit die moeras van korrupsie baan deur skynheilig te wees.

Maar volgens Christiaan is sy houding teenoor wit mense, veral boere, gevaarlik. My eerste gedagte toe ek dít hoor, is Frankofilie.

Kinshasa is naas Parys immers die stad waar die tweede meeste Franssprekendes woon. Franko­fiele het volgens my ’n obsessie met alles wat Frans is, maar dat dié obsessie ook ’n verskansing is van alles wat wit is.

Ek wil Christiaan in die rede val, maar dog toe: Luister na sy argument tot die einde.

Hy verduidelik toe: Suid-Afrikaners – wit, swart, pienk, indigo... – dink ons weet alles en dat hulle van ander dele van die kontinent niks weet nie.

Hy vryf die sout dieper in die wonde deur voor te stel dat ons Suid-Afrikaners moet besin oor hoe ons die grondhervormingskwessie gaan hanteer en dat ons moet verhinder dat wit boere van die toneel verdwyn.

Christiaan sê: “Kyk na Afrika­lande waar regimes ontslae geraak het van boere en wat die gevolge was, veral vir voedselsekuriteit.”

Voordat ek hom kan antwoord, moet hy petrol in ’n kar gaan gooi. Ek vertrek toe maar vir my aandelikse ritueel: ’n Ent se stap om die Khoi se heilige grond die Rondebosch-meent. Die verfrissende aandlug en reuk van fynbos laat my soos ’n klip slaap wanneer ek tuis kom.

Die Romeine het gesê “solvitur ambulando” (probleme word ge­durende ’n ent se stap opgelos). Terwyl ek antikloksgewys om die meent stap, probeer ek sin maak van Christiaan se monoloog.

Ek het in die wynlandstreek grootgeword en het eerstehandse ondervinding van die uitbuiting van plaasarbeiders.

As amateur-historikus is ek deeglik ingelig oor hoe die huidige grond­kwessie meer as 300 jaar gelede ontstaan het.

Sol Plaatje se profetiese woorde oor die Natives Land Act van 1913 rol nog voortdurend oor en oor in my kop: “Awaking on Friday morning, June 20, 1913, the South African native found himself, not actually a slave, but a pariah in the land of his birth.”

Ná drie rondtes om die meent maak ek vrede met die meeste van wat Christiaan gesê het, veral oor Afrikaners – werkersklas-Afrikaners – want die politieke landskap gaan mettertyd onvermydelik verander van een van ras in een van klas.

En hoe gouer wit mense in dié land dit besef, hoe beter sal dit vir veral die werkersklas wees – petit bourgeoisie ingesluit.

Vir die rekord, ek stem nog gedeeltelik saam met Malema oor die Stellenbosch-mafia.

Vandag is wat eens bekend was as Dingaansdag, dieselfde dag dat Mandela se 1961-voorstel gepubliseer is en uMkhonto weSizwe gestig is. So, laat ek vandag ’n ver­soeningsboodskap aan almal rig, veral aan kameraad Constand Viljoen, voormalige leier van die SA weermag.

Kameraad Constand, as jy wou k*k maak en die army opgestook het teen ’n negotiated settle­ment, sou die eerste Codesa-saamtrek op 21 Desember 1991 in Durban nooit plaasgevind het nie en sou Suid-Afrika deesdae heel moontlik anders gelyk het.

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters