3 maande gelede
Musiek dra boodskap oor apartheidstryd
 ~ 

DIE polisiehelikopter het met groot geraas oor ons koppe ge­sirkel...

Dit was op ’n Saterdagoggend 5 Augustus 1989 in die Maitland-begraafplaas toe ons voor twee vryheidsvegters se oop graf getreur het. Met ’n gebalde regtervuis uitgestrek na bó het ons die afskeidslied “Hamba kahle, Umkhonto (Rus in vrede, MK-soldaat) laat opstyg na die blou hemel.

Coline Williams (22) en Robert Waterwitch (20) het as martelaars gesterf in hul strewe na vryheid wat hulle nooit sou smaak nie...

Vrydag 27 April het Suid-Afrikaners 24 jaar van vryheid gevier. Vryheid is ’n lied wat uit volle bors gesing moet word, want ons het ’n bloedprys betaal daarvoor.

Prophets of Da City (P.O.C), ’n local hip-hop-groep, se album Our World was in die vroeë ’90’s ’n stem van protes. Hulle het vuurwarm hip-hop-musiek gemeng met uitdagende lirieke om die rassistiese heersers en hul demoniese aparheidstelsel vreesloos uit te daag.

Hul song “Never Again” het in 1994 voete laat jeuk en vriend en eertydse vyand het uitbundig saamgesing tydens hul optrede by wyle oud-pres. Nelson Mandela se inhuldiging. Luister ’n mens na sommige woorde in die song, voel jy tuis in dié land anders as toe ons net as “bywoners” gereken is.

Musiek wat “vryheid” skreeu, het betekenis gekry in die lirieke soos “Excellent / Finally a black president ...” Dit was die einde van ons “long walk to freedom”.

En om te dink ons is genadeloos vervolg deur wrede, sadistiese veiligheidspolisiemanne wat genot geput het daaruit om ons soos honde te jaag met sambokke. Dit terwyl van hul makkers ons pimpel en pers geskiet het met rubberkoeëls en donshael, en traangas ons byna dood laat stik het. En die mammas in die township het klaagliedere gesing met trane wat oor hul wange rol. Eindelik is ons trane gesien en ons treurmare gehoor. Oor vastelande heen het musikante musiek as wapen ingespan teen verdrukking en om vir vryheid van verdruktes te protesteer.

Die song “Free Nelson Mandela” is nie net deur kreatiewe DJ’s remix nie, maar het internasionaal die SOS-kreet van miljoene verdrukte Suid-Afrikaners geword. En die vry wêreld hét gereageer toe stemme van Stevie Wonder, Johnny Clegg, Hugh Masekela, Miriam Makeba, Brenda Fassie, Sipho “Hotstix” Mabuse, Chicco Twala, Peter Gabriel en ander kultuur-aktiviste die vryheidsevangelie verkondig het.

Miriam Makeba het die vader van apartheid, Hendrik Verwoerd, kaalvuis gepak in haar lied “Ndod’emnyama (Beware Verwoerd)” waarin sy protesteer teen apartheid. Sy het Verwoerd gewaarsku dat sy dae van wrede dade teenoor die verdrukte massa getel is. Sipho “Hotstix” Mabuse se song “Nelson Mandela” hetgesing: “Now is the time to make a stand in all things we’ve been fighting for. / Freedom and justice for everyone in this land.”

In 1980 het die sanger Peter Gabriel sy proteslied “Biko” uitgereik. Daarin sing hy: “You can blow out a candle / But you can’t blow out a flame / Once the flames begin to catch / The wind will blow it higher ...”

Op Dinsdag 10 Mei 1994 het ek as ’n waardige burger voor die TV gesit terwyl die grasperk voor die Uniegebou ’n reënboogsee van mense is. Ek het luidkeels ons nuwe volkslied , “Nkosi Sikelel’ iAfrika”, saam gesing. Oud-pres. Nelson Mandela, ’n gewese politieke gevangene, het toe pas die eed van sy amp afgelê as die eerste demokraties verkose president terwyl Oryx-helikopters ons reënbooglandsvlag doer bo in die lugruim laat wapper het. Selfs die verdrukkers is bevry, want ons Nuwe Suid-Afrika het uiteindelik die juk afgeskud wat die regime jare lank gebrandmerk het as die stinkste muishond van die wêreld.

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters