8 maande gelede
Lei joernaliste op Twitter beter op
Son Twitter
Volg @SonKoerant op Twitter  ~ 

EK HET Agulhas, die suidelikste punt van Afrika, onlangs besoek.

Daar het ek my veldtog begin om ons kus en oseane van plastiek te bevry. My voorneme is om enige plastiek wat ek teëkom, op te tel, elke keer wanneer ek langs die see wandel. Ek raai almal wat daartoe in staat is, aan om dieselfde te doen.

’n Baie goeie vriend en radiojoernalis was langs my op die wandelinge. Ons gesprek het onvermydelik na die staatskapingskommissie gedryf. Die kommissie het my tot dusver ’n paar goeie en insiggewende lesse geleer. Eerstens wou ek hê dit moet verpligtend wees vir alle staatsamptenare om die getuienis by die kommissie te volg.

Die kommissie is ’n uitstekende case study van hoe gou korrupsie by die staatsdiens kan insypel. En hoe staatsamptenare enige instruksie van politici, wat strydig met staatsdiensreëls is, met mag en mening moet teenstaan.

Die getuienis van Phumla Wil­liams, waarnemende hoof van die Government Communication and Information System (GCIS), en dié van Themba Maseko het my aangegryp met ’n mate van woede. Maseko is die voormalige hoof van die GCIS wat van sy pos onthef is omdat hy na bewering die Guptas se opdragte verontagsaam het.

As die voormalige hoof van die GCIS in die provinsie het ek bygedra tot sy sukses in die Mbeki-era.

Die nuusagentskap van die GCIS, Bua News, was eens so geloofwaardig dat koerante, radiostasies en televisiekanale Bua News-stories sonder veranderings gebruik het.

Nog ’n goeie les was dat enige poging van die regering om by mediavryheid in te meng, nie geduld sal word nie. Die grootste gevaar vir mediavryheid is tans van groot besighede wat die media kan dreig dat hulle advertensies sal weerhou as enige iets negatiefs oor hulle geskryf word. Ons as luisteraars, kykers en lesers weet nie hoe gereeld dié tipe sensuur gebeur nie.

Die ander gevaar is media-monopolieë en die afwesigheid van media-pluralisme in ons media-landskap.

Die derde les wat ek geleer het, is dat ek redelik eng was in my sienswyse oor sosiale media en my kritiek was in ’n mate verkeerd.

Die getuienis oor staatskaping is gedurende werksure gelewer en ek kon dit nie op televisie volg nie. Twitter was die enigste opsie en ek het dit pligsgetrou gevolg.

Ondanks die beperking van 280 karakters, het Twitter redelik geslaag om my blow by blow in te lig.

My enigste kommer was hoe akkuraat die tweets is. Verslaggewing deur Twitter het my aan misdaad- en hofverslaggewing herinner.

Enige joernalis ouer as 40 sal jou inlig hulle het hulle roeping – joernalistiek was tóé ’n roeping en nie ’n beroep soos nou nie – in die hof geslyp. Jy moet jou feite 100% reg hê of anders was dit bollie as jy die volgende oggend in die landdros se hof jou verskyning maak as die saak voortgaan.

Dit is my mening dat die media se besluit om hofverslaggewing af te skaal, bygedra het tot die toename in misdaad. Die afname in hofverslaggewing het die fokus op die geregtelike gesag verminder. En omdat landdroste en regters nie meer so fyn dopgehou word nie, kry jy gevalle waar ’n oortreder wat nooit bail moes gekry het nie, vrygelaat is om net weer ’n geweldsmisdaad te pleeg.

Die polisie verrig soms ’n baie goeie diens, maar dit word gedwarsboom deur die geregtelike gesag.

Twitter is die gepaste medium vir hofverslaggewing.

Joernaliste wat Twitter gebruik om ons in te lig van wat in die hof of in ’n kommissie gebeur, moet net goed geskool word in die fasette van die vak van misdaad- en hofverslaggewing. Dit sluit akkuraatheid, laster en media-etiek in.

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters