Verlede maand
Kry ’n vrou om te lei
Die lewensgrootte standbeelde van Rahima Moosa, Helen Joseph, Lillian NGoyi en Sophie Williams-De Bruyn by die lewende erfenismonument vir vroue op die Lillian Ngoyi-plein in Pretoria.  ~ 

DIS hier in Vrouemaand dat die virus my brein geïnfekteer het met die idee dat die uur geslaan het om gereed te maak vir ’n vroueleier in Suid-Afrika.

Vroue ken van menopouse en menstruasie. Die woordspeling dui op vroulike issues met “men” wat tog so wonderbaarlik goed deur vroue oorkom word.

Mans het die land opgeneuk. Laat ons eerlik wees. Al een wat uitstaan en op wie ons met trots kan terugkyk, is Ma-Diba ... Die man op wie die heelal trots is.

Wêreldwyd is daar vrouestaatshoofde wat hulle onderskei van die mislukkings van hul manlike voorgangers.

Wie sal ooit vergeet van die ontslape Indira Gandhi van Indië, Margaret “Ystervrou” Thatcher van Brittanje of Golda Meir, eerste minister van Israel?

In Duitsland het ons die formidabele Angela Merkel wat haar land met groot suksesse lei.

In Engeland het ons vir Theresa May, wat selfs sterker staan as die destydse Ystervrou, selfs al probeer Brexit haar pootjie.

En met die Wêreldbekersokkertoernooi het die TV-kameras gereeld gefokus op die aanvallige Kolinda Grabar-Kitarovic, president van Kroasië, wat haar sokkerspan ondersteun het tot in die laaste rondes van die toernooi.

In Afrika het ons Liberië se Ellen Johnson Sirleaf en Namibië se Saara Kuugongelwa.

So terloops, hou solank asem op en bid dat Michelle Obama by die Trumpetter gaan oorneem as die vroulike president van die magtigste land op aarde.

Dit behoort te sorg vir ’n algehele herrangskikking van wêreldpolitiek!

Daarom is dit my beskeie mening dat Suid-Afrika op ’n vroulike staatshoof moet begin fokus.

Ons het genoeg potensiaal om hierdie ideaal te verwesenlik.

Baie keer het ek al gewonder of Suid-Afrika nie ’n beter plek onder Winnie Mandela of Nkosazana Dlamini-Zuma sou wees nie. Of dalk in koalisie met vroue soos Helen Zille en Patricia de Lille.

Daar is formidabele vroue soos Mamphela “Kiss Me” Ramphele, Lindiwe Mazibuko en Phumzile van Damme.

Moet ook nie vergeet van die sterk vroulike streekleiers in bruin geledere nie.

As voorbeeld noem ek graag die DA se Jenny Hartnick, in all fairness and fit for purpose, soos die DA predik, en Angeline Lekay, voorheen van die ANC.

Dan is daar ook Alvina Abrahams, visepresident van Icosa, wat haar sokkies vol staan in ’n oor­wegend manlike party en baie megaboere tot in die hel frustreer met die manier waarop sy duisende plaaswerkers se agenda dryf.

Soos wat ’n goeie resep verskillende bestanddele benodig om te verhoed dat die koek flop, sal ’n raad van vroue dalk net die radikale ekonomiese transformasie kan dryf sodat die rykdom van die land meer eweredig versprei kan word.

Vroue verstaan hierdie brood-en-botter-kwessies die beste. Dis tog die vroue wat self hul huise se ekonomie bestuur.

Seksisties? Persepsies sal altyd met ons wees, daaraan kan ek niks doen nie.

Voeg daarby die ontwaking onder bruin mense van ’n Khoi-kultuur met stamhoofde, hoofmanne en die konings.

Laat ek eerlik wees – ek het lanklaas so ’n Babelse verwarring gesien. Daar is te veel leiers en te min volgelinge.

Is dit die “vloek van die bruin huid” om almal leiers te wil wees?

Ek het ’n paar jaar gelede afval geëet saam met Khoebaha Corne­lius III, die koning wat onlangs geclaim het dat die Kaap gaan afstig as die Soewereine Staat die Goeie Hoop. En koningin Martha Adendorf bly hier neffens my op ’n sendingstasie.

Maar dan lees ek ook weer ’n ander joernalis skryf die ware Khoi-koning woon glo in die Strand – koning Abraham.

En intussen probeer talle bruin groepe verenig met die oog op die komende verkiesing in 2019. ’n Verkiesing waar die rol van die Khoi glad nie gering geskat moet word nie.

So, kan ons in 2018 dalk net daarna uitsien dat vroue hul regmatige plek op die partylyste sal inneem en ’n rol sal speel in die party wat die meeste Khoi-groepe aan sy sy kan kry?

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters