8 maande gelede
Kort ons binnekort kiefait vir ons taal?
 ~ 

MIETA maaf, ma’ ek wil graag in die gadaab sit vannie debate oo’ Afrikaans.

Ek is moekalaaf genoeg om ’n stuiwer in die armbeurs te gooi.

Dit wil voorkom, veral as ek na sekere mense lyster, of Afrikaans besig is om sy ajjal te kry. Dat ons moet regmaak vir die 7, 40 en 100 dae.

As ek na sekere mense lyster, wil dit voorkom of ons Afrikaans se kaffang moet uithaal, dat die toeka-manie regstaan en dat die malboet op pad is met sy gabba-gabba-storie.

As ek na sekere mense lyster, hoep ek Afrikaans se kiefait klops is op betaal, want dit wil voorkom asof ons binnekort kiefait gaan het.

Ek hoep daa’ is ’n oepe gat, want ons wil nie by die koebus kom en dan moet ons nog een grou nie.

Ek sien daa’ was wee’ gielaaf by Hoërskool Overvaal innie Vereeniging, waa’ sekere mense ’n issue gehad het met ander wat koples en Slamse skool in Engels wil hê.

Hoe lie’ haa’, kry jy nog sulke gajawaans? Ek mien: As jy só concerned is oo’ Afrikaans, dan sal jy mos ’n effort maak om nog laaities by die skool te kry en hulle dan eventually in Afrikaans te laat toelies?

Ma’ dit is obvious dat al daai mense wat so ’n issue het, hulle se jiegher, jawap en laaghoes is dít van ’n klomp moenaafieks.

Hulle is kaainties so concerned about die taal en probee’ om dié wattie fair issie ma’ oek Afrikaans praat insleep by hul issue.

Ma’ hul tactics is obvious. Daai klomp moenaafieks is net inte­rested in die behoud van magheb, wat gebaseer is op die Afrikaner-nasionalisme.

Wiet hulle die ee’ste kietaap in Afrikaans was ’n koplesboek wat in Arabies ge-toelies was, ma’ wannir die garaafs gelees was, is dit in Afrikaans uitgespreek?

Boeta Achmad Davids aragam, een vannie famous Moesliem­historians, het so ’n koplesboek gekry wat so vroeg as 1807 met die hand getoelies was.

Die ee’ste Afrikaans-Arabiese boek wat gedruk was, was dié van Abu Bakr Effendi. Dit het gegaan oor Tôhara.

Die boek se naam was Uiteensetting van Geloef. Die woor’e is anners geskryf as vandag se Afrikaans. Byvoorbeeld: Een sin in die boek is geskryf “wanier djoeuaile wel oeuapstaan oeuamtemaak die salah”.

In vandag se Afrikaans is dit “wanneer julle wel opstaan om die salah te maak”.

Lang voo’ die so-called ee’ste taalbeweging in 1874 begin het, het swartes al Afrikaans gepraat.

Dit was ’n taal wat opgemaak is deur Hollands, Maleis, Portugees, Indonesian en die inheemse Khoi- en San-tale, lang voor daai chancers van die Genootskap van Regte Afrikaners met hul jamang mentality gekom en Afrikaans gesteel het.

Ek moet sê, ek hou nogal van tietie Deidre le Hanie vannie ATKV. Haa’ niejaat is reg.

Ek dink sy is soppang om uit te reik na ander taalgroepe.

Ek dink haar idea is Maa-sha Allah en ek moet vir haar slamat sê. Daar is faida in die way sy dink. In fact, ek oorweeg dit sterk om ATKV-membership te kry.

Ek raak ook gatvol oor hoe alles in die land Engels word. Ek sal graag wil sien dat almal innie 11 amptelike tale van ons land batcha.

Só, laat ons almal wie se niejaats reg is omtrent Afrikaans soeloeg maak.

Kom ons maak ’n mustajab dua dat ons almal ge-tammat raak in ál die 11 tale van ons land en dat geen taal as tool misbruik word om die privileges van een groep te verseker nie.

Kom ons han­dle die issue van taal met mooi adab.

Wassalaam.

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters