8 maande gelede
G’n rol vir Zuma in dié Madiba-jaar nie
Pres. Jacob Zuma en wyle oud-pres. Nelson Mandela, in November 2004. Foto: REUTERS/Juda Ngwenya  ~ 

DONKIEJARE laas het ’n politieke jaar met só ’n oorverdowende knal begin.

Vir die rekord: Ons politieke jaar begin op 8 Januarie, wanneer ­Afrika se oudste bevrydings­beweging, die ANC, sy bestaan herdenk.

Dit begin nié in Februarie nie, wanneer LP’s spoggerig voor flitsende kameras in peperduur uitrustings op die rooi tapyt ’n grand entrance by die parlement maak.

Cyril Ramaphosa, wat die nuut verkose president van die ANC is, het die fakkel van dié politieke jaar aangesteek.

Dié jaar word opgedra aan oudpres. Nelson Mandela, het Rama­phosa verklaar. Tata vir ons in Mzansi; Madiba vir die wêreld.

As ons Ramaphosa reg verstaan, sal die gees van Madiba vanjaar herleef in sy nalatenskap. Nie net vir die ANC-kamerade nie, maar vir almal in Mzansi.

Dit beteken ’n jaar van politieke verdraagsaamheid, nasiebou, eenheid, ’n beter onderwysstelsel, herwinning van nasionale waardes, bladskud met politieke opponente, solidariteit met die werkersklas, ekonomiese herstel, maar veral agting vir ons Grondwet.

Wat ’n eerbare manier om die jaar mee af te skop! G’n oor en weer skellery tussen comrades en fighters nie – waarna parlementêre “kelners” diegene onder rooi hard hats “serve” met marching orders...

Die nasie se verteenwoordigers in die parlement gaan erken en gerespekteer word en hul monde en mikrofone sal nooit weer stilgemaak word nie...

In dié Madiba-jaar behoort eerbare, gesoute staatslui nie uit hul portefeuljes “geskommel” te word nét omdat hulle die wil van die mense wil laat geld nie. En rassisme mag nie meer as ’n alledaagse verskynsel aanvaar word nie.

Die gees van ubuntu moet weer wakker geskud word. Onwrikbare lojaliteit teenoor die land moet herleef soos in 1994. “Batho pele” – “die mense eerste” – moet weer die slagkreet wees.

Staatsbeheerde maatskappye behoort winsgewend te wees en die staatsmasjinerie geolie.

Die regerende party behoort ’n voorbeeld van verantwoordelike regering en etiese optrede te wees.

Die deure van onderwys en kultuur behoort wa­wyd oop te wees sodat niemand uitgesluit word op grond van taal, kultuur of ras nie.

Die goeie sal seëvier oor die slegte, en steeds versoenend wees. En dapper leiers sal na vore tree.

Dis die jaar van voor vat om elke ekonomiese dief vas te vat. Alle stemme moet opgaan teen diegene wat ons ekonomie op sy knieë gedwing en oor die afgrond na rommelstatus gestoot het.

Madiba se hart sou gebokspring het daaroor dat in die nuwe poli­tieke jaar verskille opsy geskuif is en dat parlementêre portefeulje­komiteelede saamstaan teen die staatskasdiewe.

Hy sou ge-smile en ’n Madiba jive daaroor gegooi het dat die rooi, blou en geel span soos een brigade die staatskasmelkers roast en toast totdat hul kierankies braai.

Maar Madiba sou ook trane gestort het oor die Life Esidimeni-tragedie, die Sassa-debakel, die gemors wat so byna die SAUK-seine geblokkeer het, die runaway Prasa-soustrein wat ontspoor, polisie-dikdinge wat pay-as-you-go aanvaar en alle ander nie-so-ayoba-dinge in die land.

Cyril was die president-in-waiting, sê politieke optimiste. Zuma is die een wat hom laat wag het, meen die ingeligtes.

Die slagoffer van die “Slag van Nasrec”, Zuma, het krampagtig aan die sleutels van die Uniegebou geklou.

Mzansi het sy asem opgehou, want hy het angstig gewag dat die ANC se nasionale uitvoerende komitee dié skandemaker die deur wys.

Bied ons hoop, ou Cyril. Bied ons nou hoop...

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters