13 dae gelede
Evas kan voluit lewe en ál hulle drome deesdae waar laat word
Merlyn van der Rheede  ~ 

ONS vier Augustus as Nasionale Vrouemaand en 9 Augustus as Vrouedag.

Ons bring só hulde aan die sowat 20 000 vroue wat in 1956 na die Uniegebou in Pretoria opgeruk het uit protes teen die land se paswette.

Ingevolge die Wet op Bevolkingsregistrasie is sommige Suid-Afrikaners as “swart” omskryf en moes hulle ’n “pas” dra om verstedeliking te beheer en migrerende arbeid in die apartheidsera te bestuur.

Dié maand vier ons alle aspekte van vrouwees en wil ons hulde bring aan alle vroue wat ongesiens dag ná dag hulle taak vervul. Dié vroue is ons helde omdat hulle ’n verskil maak. Dis enkelmammas wat baiekeer meer as een werk het om die pot aan die kook te hou, onderwyseresse wat die ekstra myl vir ander se kinders stap, verpleegsters, polisievroue, gemeenskapsaktiviste wat sóveel vir hul gemeenskappe doen...

Vroue moet die balans handhaaf tussen persoonlike ontwikkeling, kinders grootmaak, die huwelik en dan nog boonop kompeteer met mans by die werk.

Voorkoms

Ons weet vroue het ander uitdagings as mans en juis daarom word daar teen vroue gediskrimineer. Nogtans het baie vroue op talle terreine hoogtes bereik.

Die samelewing vereis van ons om op ’n sekere manier op te tree en ’n sekere voorkoms te hê. As jy nie inpas nie, is jy nie sosiaal aanvaarbaar nie. Die armlastiges en minderes onder ons word verwerp en misken.

Dis egter verblydend dat die stereotipering – dat vroue se plek in die kombuis is en dat seuns slimmer as meisies is – stelselmatig afgebreek word.

Ons sien dat meer en meer vroue dinge doen wat voorheen ontoeganklik was. Ons stem saam met Michelle Obama wat sê: “Women and girls can do whatever they want. There is no limit to what we as women can accomplish.”

Ek dink vroue word vanaf ’n jong ouderdom geïndoktrineer om aangenaam en beleefd te wees, ongeag wat hulle toegesnou word. As ’n vrou haar mening ferm en selfgeldend oordra, word sy as aggressief afgemaak.

Wanneer mans die leiding neem, word hulle as leiers beskou. Wanneer vroue dit doen, is hulle baasspelerig! Vroue, laat julle stemme hoor!

Dis belangrik om getrou aan jouself te wees en jou sê te sê. Nie almal gaan altyd van jou hou nie, maar dis in orde. Leer om met kritiek saam te leef.

Vergeet die idee dat almal van jou moet hou en dat jy almal gelukkig moet hou. Leef voluit, net soos jy is en soos ons liewe Vader jou geskape het. Ontdek jou innerlike krag en jaag jou droom na.

Ons kan nie toelaat dan mense minder van ons dink net omdat ons vroue is nie.

Ek het my ma, ’n vrou met ’n sterk persoonlikheid wat nie nonsies van enigeen vat nie, as rolmodel gehad.

Sy het nooit die kanse gehad wat vandag se vroue het nie, maar maak steeds ’n verskil in ander se lewe. Sy’t my geleer om liefdevol te wees en vir ander om te gee, maar om niemand toe te laat om my minderwaardig te laat voel oor my velkleur of geslag nie.

Ons as vroue is gelyk, ongeag velkleur of status. Ons trotseer almal dieselfde uitdagings. Die wêreld is nie ’n vreugdevolle, wonderlike plek vir ons nie. Ons baklei steeds vir gelyke regte en beveg geweld op alle vlakke.

Pleks van jou te bekommer oor hoe jy oorkom, wees trots op jouself en wat jy bereik het. Staan op vir dit waarin jy glo! Laat ons in die voetspore volg van 1956 se vroue. “Wathint’ abafazi, wathint’ imbokodo!”

Merlyn van der Rheede is projekbestuurder by die Afrikaanse Taalraad.

Son op Sondag nooi jou om oor enige kwessie jou mening te lug. Organisasies kan ook ’n bydrae lewer. Skryf aan Son op Sondag: Maak Jou Stem Dik by nuus@kaapseson.com. Son op Sondag behou hom die reg voor om skrywes te redigeer en niks te plaas as dit lasterlik is of enige vorm van diskriminasie behels nie.

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters