5 maande gelede
En toe staan die DA altyd op ’n wit klip
Mmusi Maimane en Patricia de Lille. Foto: BusinessLIVE/ESA ALEXANDER  ~ 

DIE DA is geen reën­boog­party nie – sy onwrik­bare teen­kanting teen die ont­eiening van grond sonder vergoeding bewys dit.

Dis duidelik soos daglig dat hy meer bekommerd is oor wit boere wat grond sal verloor as oor nie-blanke arbeiders wat die grond bewerk, maar dit nie besit nie.

Die grondkwessie was nog altyd ’n demokratiese debat. As partye soos die ANC of PAC dit werklik roekeloos wou hanteer het, sou ’n land grab al 20 jaar gelede uitgevoer gewees het.

Nóg ’n voorbeeld dat die DA skynheilige rassiste huisves, is dat hy Patricia de Lille, die uitvoerende burgemeester van Kaapstad, uit die raad en party wou skop met ’n mosie van wantroue teen haar.

Lindiwe Mazibuko, wat die DA in 2014 verlaat het, het nie geskroom om De Lille te verdedig teen die aanslag van “konserwa­tiewe wittes” in dié sogenaamde reënboog-party nie.

Mazibuko sal weet wat dit be­teken om ’n “clever black” in dié party van hoofsaaklik blanke lede te wees. Dis omdat sy self ’n slagoffer van sy insecurities was toe haar persona gedreig het om dié van Helen Zille te oorskadu.

Deur te verwys na hoe die DA-koukus en stadsraad De Lille behandel het, meen Mazibuko die DA het misluk daarin om Suid-Afrikaners daarvan te oortuig dat hy ’n nie-rassige party is.

Onthou, De Lille was eens ’n vuurvreter-lid van die PAC en het later haar eie party, die OD, gestig, en dié het meestal bruin kiesers getrek. Sy is dus ’n politikus met leierseienskappe, en dít kan haar die hoogste pos in die DA bied.

Sy laat ook nie toe dat James Selfe haar remote control nie – anders as haar leier, Mmusi Maimane. So, dat die DA-son oor die ganse Mzansi skyn, is dus net wensdenkery. Voor die algemene verkiesings volgende jaar sal nog baie gekleurde DA bench warmers ontnugter word.

Stap ’n mens ’n draai in die Baai, sien jy ’n ander prentjie: In dié metro is dit duidelik dat die DA se “wit brigade” Athol Trollip ten alle koste wil behou as die burgemeester van die Nelson Mandelabaai-munisipaliteit.

Die EFF voel sterk daaroor dat Trollip moet boet vir die DA se standpunt oor die grondkwessie. Die eienaars van wit monopolie-kapitaal is vasberade daaroor om eiendoms­belasting en diensgelde van die munisipaliteit te weerhou as Trollip sy pos in ’n demokratiese proses verloor.

Wat blaas dié sentiment aan? Trollip is self ’n boer van Bedford op die Oos-Kaapse platteland, en onlangs is beweer dat hy sy (gekleurde) plaaswerkers stief behandel.

Die EFF is een van die partye wat Trollip in sy pos verskans, maar verafsku lankal sy arrogansie en baasspelerigheid in die raad. Die EFF se leier, Julius Malema, het gesê die DA het witvoetjie gesoek gedurende onderhande­linge om die metroraad in die Baai saam te stel. Dít, meen Malema, is net sodat Trollip die burge­meester kon wees.

Malema meen: “Hy is hul gunsteling-burgemeester vanweë sy velkleur.” Hy sê die DA het nie dieselfde geesdrif getoon om sy burgemeester in Tshwane, Herman Mashaba, en Johannesburg, Solly Msimanga, verkies te kry nie.

Dis duidelik dat die DA homself nie wil vervreem van sy wit ondersteuners nie uit vrees dat hy dieselfde paadjie sal loop as die Nuwe Nasionale Party, waarvan die wit ondersteuners ongemaklik geraak het met ’n “mengelmoes-party”.

Vir konserwatiewe wittes wat steeds glo hulle het spesiale regte as ’n minderheidsgroep, sal die VF+, wat die EFF as ’n nuwe “rooi gevaar” beskou, dalk ’n alternatiewe opsie bied as die DA hulle versaak.

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters