4 maande gelede
Dink net wat ‘ons’ aan onsself doen
Foto ter illustrasie. Foto: André Damons  ~ 

MISDAAD is op my radar – en dis nie omdat ek nou al twee keer van my slimfoon beroof is vandat ek in November 2016 hier in Johannes­burg aangekom het nie.

Slimfoon, nogal – maar my dom optrede het gemaak dat ek albei kere kwesbaar op ’n sypaadjie gestaan en wag het vir ’n Uber of ’n Taxify.

En terwyl ek wag, kyk ek na die foon om seker te maak dat ek die motor met die regte registrasienommer raaksien.

En ek kyk en kyk – en met dié sien ek glad nie die skelm raak wat mý dophou, die foon gryp, in ‘n wagtende motor spring en wegjaag nie.

Twee keer, sowat drie weke uitmekaar uit ...

En in albei gevalle het ek die dief agterna gesit en gegryp en op die grond laat beland.

En agterna het ek besef dit was eintlik nie baie wys nie, want wát as hulle geskiet het?

Maar dis nie waaroor ek vandag wil skryf nie.

Probleme met slimfone, Uber en Taxify is after all wat ander mense “middelklas-probleme” sal noem, en ek sal ook nou nie daaroor stry nie.

Dis hoekom ek in die eerste sin al gesê het die rubriek handel nie oor my eie ervaring nie.

Waarby ek eintlik wil uitkom, is oor die misdaad wat in die Kaap plaasvind. En meer spesifiek oor hoe magteloos dit die slagoffers laat.

Nou, in sy boek The Evidence of Things Not Seen – die verhaal van ’n groepie swart kinders wat in Amerika op ’n ry doodgemaak is soos met die “Stasiemoordenaar”-gebeure hier by ons – het James Baldwin geskryf dat dit moeilik is om ’n storie te volg as jy ver van die huis af woon.

Dit is (steeds) so, maar gelukkig help Facebook darem deesdae baie om ons op die hoogte van gebeure te hou.

So lees ek ’n post op die Facebook-blad van die digter Diana Ferrus oor twee jong mans wat koelbloedig op die Vlakte doodgeskiet is.

Haar reaksie lui: “Dit gebeur elke dag in ons gemeenskappe.

“So, as jy oor genocide wil praat, kom Cape Flats toe.”

Hiermee lewer sy kommentaar op die Australiërs wat onlangs ’n veldtog begin het om wit Suid-Afrikaanse boere soontoe te lok omdat hulle kwansuis hier te lande daagliks wreedaardig uitgemoor en gemartel word.

Niemand kan die feit ontken dat boere slagoffers van misdaad is nie – óók en nie alléén nie – maar die ding is van dié: Dit is dikwels net in ’n koerant soos Son dat bruin misdaad prominent gedek word.

Dan moet ’n mens vra of die Australiërs ooit weet hoe die oorspronklike mense van die Kaap – hulle wat oor die jare dieselfde soort behandeling as die Aborigines moes verduur – deurloop onder misdaad?

Selfs hier in Johannesburg vind ’n mens baie keer óf onkunde oor die Kaapse Vlakte en bruin misdaad óf ’n algehele ongeërgdheid daaroor.

Dan moet ’n mens jou afvra: Waarmee het dit te doen?

Is dit slegs die media wat daarvoor te blameer is?

Of het dit ook te make met politici se prioriteite?

Dit kan seker ook wees omdat die situasie in die Kaap uniek is in die sin dat “ons” in talle gevalle sowel die misdadiger as die slag­offer is.

En hieroor moet ons nog deeglik selfondersoek doen en óók daaroor op Facebook post.

  • Heindrich Wyngaard is aanbieder van die program KLOP! (Kô, lat ons praat) op kyk­NET & kie (DStv-kanaal 145) elke Sondagaand om 19:30.
Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters