8 maande gelede
Dié jaar is maak of breek vir flou ANC
Jan Swarts  ~ FOTO VERSKAF

AS DIE ANC die tyd kon terugdraai na Desember 2017 sou hy die uitslag van die leiersverkiesing op sy 54ste nasionale konferensie wou verander.

Daar was geen regstreekse wenner nie, maar moenie te gou vir dr. Nkosazana Dlamini-Zuma as ‘n verloorder afskryf nie. Hoewel Cyril Ramaphosa se CR17-faksie vier van die topposte verower het, is dit eintlik die NDZ17’s, Ace Magashule (sekretaris-generaal) en antie Jessie Duarte (adjunk-sekretaris-generaal) wat nou die big shots van Luthuli-huis is.

Dalk het die vorige ANC-woordvoerder Zizi Kodwa profetiese woorde geuiter toe hy deur joernaliste gepols is oor hoe hy voel om sy pos vaarwel toe te roep. Seg Ko­dwa: “ ’n Goeie danser weet wanneer om die verhoog te verlaat ...”

Dieselfde kan nie van ’n Zuma gesê word nie. Vader Jakob is die beste danser op die ANC-verhoog. Die EFF se adv. Dali Mpofu het getwiet: “AZupta continua!”

In pres. Jacob Zuma se laaste rede as ANC-president het hy genoem dat dit nie sy laaste sien is nie en dat hy voortaan sy gewig by MK se militêre veterane gaan inwerp. Hy en liegbroer Carl Niehaus behoort ’n mean team te vorm. Dalk sien ons Zuma oor vyf jaar weer singend en dansend as die “Nkandla Comeback Crooner”.

Onthou, daar’s geen grys oomblik in die ANC se binne-politiek nie. Kyk maar na die kortstondige politieke loopbaan van Brian Molefe, die tjankende shebeen-loper en voormalige Eskom-baas. Vóor die konferensie is almal wysgemaak daar is sewe hoopvolle ANC-presidentskandidate en die party se leierswortels is diep, net om toe ’n tweeperd-resies te sien.

Die meeste lede van die ANC se nasionale uitvoerende komitee (NUK) is skielik Ramaphosa-lojaliste, maar het destyds ewe bankvas gestaan agter pres. Zuma. Rama­phosa moet wakker slaap.

Wat gaan hul reaksie wees as besluit moet word om Zuma te herroep of hom in ’n staat van beskuldiging te plaas?

Hoe gaan hulle reageer as Ramaphosa eis dat die kabinet nóú geskommel word om van die Zupta-aanstellings ontslae te raak? Volgens die ANC se grondwet hou die NUK toesig oor hul president. Zuma is ’n sitting duck en die NUK kan dus van hom ontslae raak. Maklik gaan dit egter nie wees nie omdat ongeveer 38 lede se politieke naelstring steeds onlosmaaklik met dié van die Zuptakrasie gebind is.

En natuurlik kan die argument van “eenheid” geopper word.

Die ANC se lysie-politiek is steeds ’n verdeler en gaan moeilik uitgeroei word. Die ANC is nie meer die eertydse bevrydingsbeweging nie, maar ’n politieke party waar selfs slapende agterbankers ’n vet salaris verdien.

Lojaliteit teenoor dié party het lankal plek gemaak vir bondgenootskap met invloedryke kamerade wat glo dat dit nou histories verdruktes se tyd is om te “eet”, al word die brood van die armes gesteel. Dis lankal nie meer ’n people’s government nie, want die verteenwoordigers van die people moet elke keer die howe nader om die wil van die mense af te dwing.

Toe Ramaphosa as ANC-president gekies is, het vreugdevure by Nasrec gebrand. Nié omdat NDZ verslaan is nie, maar omdat van Jacob Zuma ontslae geraak is.

Zuma verdien nie nog ’n jaar as president nie. As Ramaphosa nie in Februarie die State of the Na­tion-toespraak as president van dié land lewer nie, gaan dit ’n meer opdraande pad wees vir die ANC se 2019-verkiesingsveldtog.

Môre herdenk die ANC sy 106de bestaansjaar.

Ramaphosa gaan die verjaardagboodskap lewer en Zuma gaan ’n luisteraar wees. Wat gaan Cyril sê...?

Hêppie birth­day, ANC, en ’n voorspoedige politieke jaar aan almal.

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters