3 maande gelede
Cyril moet ANC nou van binne vernuwe
 ~ 

DIE twyfelagtige mense op die ANC-kandidatelyste en pres. Cyril Ramaphosa se ongewilde stormram, Tito Mboweni, maak die president se planne om die ANC te vernuwe uiters moeilik.

Om die waarheid te sê, die samestelling van ANC-kandidatelys vir die parlementêre en provinsiale wetgewers, en Mboweni, minister van finansies, se onsensitiewe middernagtelike twiets vergestalt die sentiment dat die ANC op die glybaan van algehele morele verval is.

Dis ’n bewys dat die ANC nie bekommerd is oor sy – soos die ANC dit in sy Mangaung-resolusies oor “organisatoriese vernuwing” in 2012 gestel het – morele verval en vrot beeld nie.

Daar is ’n diepe besef en gevoel by Ramaphosa dat die ANC hom van binne moet vernuwe, maar die ANC as organisasie voel blykbaar anders. In die openbare domein is die algemene siening dat die ANC sedert sy Polokwane-kongres in 2007 van die kop af na onder vrot.

Ook is Suid-Afrikaners diep bekommerd omdat die eties-morele beginsels van baie ANC-kaders wat sleutelposisies in die staat en breë samelewing beklee, vloeibaar geword het. Dit plaas die ANC en dus die land se geloofwaardigheid onder verdenking.

’n ANC-kandidatelys met name wat hoofsaaklik deur skandes agtervolg word, verskerp dié sentiment.

Boonop is lojale Ramaphosa-ondersteuners verwyder of onverkiesbaar laag op die lys geplaas terwyl twyfelagtige Zuma supporters hoog in maklik verkiesbare posisies geplaas is.

ANC-lede wat ’n uitdagende perspektief op die ANC se korrupsie en staatskaping-karakter plaas, sal jou kan vertel hoe moeilik dit is omdat Zuma-ondersteuners fluks werk om van hulle ontslae te raak.

Boonop stel Mboweni ook teleur omdat hy persoonlike twiet-aanvalle op talle Suid-Afrikaners loods.

Hy’t onlangs onder skoot gekom nadat hy in ’n twiet voorgestel het diegene wat deur Standard Bank afgelê word, moet gaan boer. Dit volg nadat dié bank aangekondig het hy wil 91 takke teen einde Junie sluit. Sowat 1 200 werknemers gaan in die proses afgedank word.

Mense was so woedend, hulle het Ramaphosa aangemoedig om Mboweni af te dank. Iets wat die president na alle waarskynlikheid nie gaan doen nie omdat Mboweni tans as Ramaphosa se stormram of mokerman dien.

Mboweni moet die dinge in die openbaar sê wat die president nie kan doen nie omdat­ dit lojale Zuma supporters woedend kan maak. Dit sou hulle in ’n posisie plaas om Rama­phosa se planne te ondermyn om die ANC te vernuwe en die land van die ANC se korrupsie en staatskaping te red.

Die wenkbroue het ook gelig toe Mboweni die openbare beskermer, Busisiwe Mkhwebane, in die openbaar aanval oor haar bevinding dat Dondo Mogajane, direkteur-generaal (DG) van die tesourie, oneerlik was toe hy sy misdaadgeskiedenis in 2017 verswyg het toe hy vir die DG-pos aansoek gedoen het.

Mense is reg om Mboweni se gedrag hieroor in beginsel te kritiseer omdat dit allerweë beskou sou word dat die minister inmeng by die openbare beskermer se werk en dat sy korrek en volgens die wet en reëls van die staatsdiens opgetree het deur die bevindings teen Mogajane te maak.

Die strategie agter die optrede deur Mboweni jeens Mkhwebane is egter van groter belang vir Ramaphosa se skoonmaakprojek.

Dit is om ’n klimaat te skep om van ’n lojale Zuma-ondersteuner soos Mkhwebane ontslae te raak omdat sy nie in die president se skoonmaakplan inpas nie.

Indien nie, gaan ons met haar opgeskeep sit vir die res van Ramaphosa se eerste termyn. Dis in landsbelang dat sy so gou moontlik uit haar amp geskop word omdat sy in die pad staan van broodnodige verandering en die uitwissing van die ANC se korrupsie, staatskaping en plundering.

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters