2 maande gelede
Bruin kiesers steun bruin leiers traag
 ~ 

DIE Kaapse hoog­geregshof se tersydestelling van die DA se beëindiging van Patricia­ de Lille se party­lidmaatskap verskuif die fokus nou na haar politieke toekoms elders en na die party.

Dis ’n gegewe dat De Lille, wat die Kaapstadse burgemeester is, in die afsienbare toekoms die DA sal moet verlaat. Dis omdat haar verhouding met die party en met die leier daarvan, Mmusi Maimane, onherstelbaar verbrokkel het.

Ook plaas dit die fokus op die verwagtinge van sommige bruin mense, veral dié in die Wes- en Noord-Kaap, dat De Lille weer ? politieke party moet stig om – soos hulle dit stel – “ons mense se belange en aspirasies te verteenwoordig”.

Veral werkersklas-bruines glo daar’s nog baie politieke skop in De Lille oor, en gevolglik pleit hulle in die sosiale media en koerant­briewe dat die eertydse Onafhanklike Demokrate (OD) moet herleef.

Bruines se ontevredenheid met die DA spruit nie net uit hoe die party vir De Lille behandel nie, maar ook oor sy besluit in 2016 dat ál sy strukture met hoofsaaklik swart mense gevul moet word.

Die “verswarting” van die DA strook met die uitslag van die 2014-verkiesing. Voor dié verkiesing is die Wes-Kaap as die DA se bakermat beskou omdat hy daar altyd meer stemme getrek het.

Dié provinsie – met sy hoofsaaklik wit en bruin konserwatiewe kiesers uit die geledere van die Nasionale Party – was dus ? veilige hawe vir die DA.

Nie meer nie, want die DA het in dié verkiesing meer stemme in Gauteng getrek. Die magsbalans in die party het dus noord gekantel en het dus die plafon met sy wit en bruin steun getref.

Reeds daarom sê (sommige) bruines die DA het hulle klaar misbruik en het hulle nou nie meer nodig nie. Die De Lille-geval word as ’n tipiese voorbeeld voorgehou.

Daar word ook geglo dat die ander politieke partye liewer vergeet moet word omdat hul gevestigde belange elders lê.

Dat ’n politieke party met ? bruin leier noodwendig die meerderheid bruin mense se steun sal trek, is egter ’n wanopvatting.

Die geskiedenis die afgelope 53 jaar sedert die stigting van die Arbeidersparty (AP) in 1965 deur prof. Richard van der Ross vertel ’n ander storie. Dit is dat bruin leiers sukkel om hul eie mense se politieke steun te trek.

Dít kan aan verskeie faktore toegeskryf word, soos identiteitskwessies.

Trouens, ’n mens kan gerus wonder of bruin mense tussen 1965 en 1994 wel vir “bruin partye” soos die AP en ander sou gestem het as daar nie iets soos apartheid was nie.

En ’n mens wonder met reg, want FW de Klerk (NP), Tony Leon (DP/DA) en Helen Zille (DA) was baie meer suksesvol om bruin stemme­ te trek as bruin leiers voor en ná 1994.

Dat ’n beduidende getal bruin mense onlangs by die verregse Vryheids­front Plus aangesluit het, regverdig ’n mens se vertwyfeling.

Waarmee diegene wat pleit dat die OD moet herleef, rekening moet hou, is dat dié party nooit as ’n bruin party in 2003 gestig is nie.

Dis gestig as ’n party wat alle inwoners van die land op ’n gelyke politieke grondslag sou verteenwoordig.

Die OD het wel later ’n bruin gelaat in veral die Wes- en Noord-Kaap gekry. Dit het egter spontaan gebeur en nie omdat die leierskap ’n etnies-ideologiese agenda gedryf het nie.

De Lille het haar politiek in die nierassige “kongres-politiek” geleer. Nadat sy die DA verlaat het, sal sy beswaarlik geken wil word as die leier van ’n bruin politieke party.

Bruines wat De Lille tot leier verhef, is heeltemal binne hul reg, maar hulle moet onthou: Nierassige politiek is ons toekoms.

Ons kan nie terugval op etniese politiek nie.

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters