5 maande gelede
Uitskieters kry eretoekennings
KUNSTE: Dr. Danny Titus saam met Willie Bester en Muriel Mapling.  ~ 

DAAR is ’n Springbok-atleet wat tans glad nie vir die Bokke skree nie, asook ’n wêreldklas-beeldhouer wat nog nooit ’n sense of belonging in die land van sy geboorte gevoel het nie.

Daar is ’n jong seun wat in eie reg ’n taalaktivis is en ’n “donkie” wat sing en rap dat die biesies bewe.

Dié is maar ’n paar bekende dog onbesonge helde wat deur die DAK Netwerk van dr. Danny Titus met DAK Netwerk-eretoekennings beloon is.

Johan Landsman was ’n middelafstand-sensasie in die jare van ons sport-isolasie.

Hy’t Johan Fourie se 10 jaar lange oorheersing in die middelafstande met ’n skittertyd oortref. Landsman is vir sy lewensbydrae tot sport in SA vereer.

Toewyding

Die onderwyskenner en later hoof van die KKNK-direksie, dr. David Piedt van Oudsthoorn, is vir sy bydrae in opvoedkunde en onderwys vereer.

Glenda Mnqwazi, ’n Xhosa-sprekende van Kayamandi, Stellenbosch, is vereer vir haar toewyding om Afrikaans aan leerders in haar area te onderrig.

Sy ontvang ’n DAK Netwerk-eretoekenning vir haar bydrae tot die bevordering van taalvaardigheid.

Vir die bevordering van Afrikaans onder die jeug het William Sezoe, ’n leerder van die Hoërskool New Orleans in die Paarl, ook ’n eretoekenning ontvang.

Benewens sy radiowerk, is hy ook onlangs as die voorsitter van die ATKV-jeugtak by sy skool aangewys.

Die beeldende kunstenaar Willie Bester was van jongs af skeppend. As seun van ’n Xhosa-pa en bruin vrou in die apartheidsjare het dié gesin kwalik as familie saamgewoon.

Tog het Bester hom eiehandig verhef tot een van ons grootste beeldende kunstenaars plaas­lik en oorsee.

Bester ontvang ’n toekenning vir die bevordering van innoverende kuns en kultuur.

Aan die gewilde RSG-omroeper Haidee Muller van Oudtshoorn is ’n toekenning vir haar bydrae tot die bevordering van Afrikaanse media oorhandig.

Vir haar inspirerende pogings om van Suzie’s Craft and Coffee Shop in Kuilsrivier ’n reuse­sukses te maak, is Suzie Mathys beloon met ’n toekenning vir haar bydrae tot ekonomiese bemagtiging deur entrepreneurskap.

Ameen Levy, oftewel die Rappin’ Donkey van die Paarl, het nou al ’n bekende naam in Suid-Afrika en oorsee geword.

Hy het ’n toekenning ontvang vir sy bydrae tot die bevordering van kreatiewe musiekontwikkeling onder die jeug.

Op dieselfde uithanggeleentheid is Albertus Davids se eerste CD, Die Ding Ruk Onder Rebels­kop, ook bekendgestel. Dit is deur DAK Netwerk befonds en uitgereik.

Hart

Daar is al talle DAK Netwerk-projekte en -gesellighede tot dusver vanjaar aangebied.

Dié organisasie sê hy dra die belange van die meeste van Suid-Afrika se Afrikaanssprekende gemeenskappe op die hart en bied aan hulle almal ’n “onderdak-tuiste”.

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters