Verlede maand
Wade se wurms wil my hard laat skreeu
Dean John Smith
Wade word deur Dean John Smith gespeel. Foto: Instagram  ~ 

DIT lyk asof die Kumbaya-vroutjie Ruiterbosch toe gekom het om te bly en dit smaak my Wade is nou vasgevang in die Nina-web!

As ek dit nie verkeerd het nie, was dit mos ou Justin wat aangedring het dat Wade vir Nina moet uitluister en nou is Justin vies-kêrel­!­

Dit is nou net Nina wat die jol volmaak en dit is vreeslik ’n doring in Justin se vlees. Ja, jy wil Wade mos by die vrou se kraal injaag. Hy kweek dan nou glads wurms. Kan julle dit glo? Wurms! Die mannetjie se ellende is nog só rou, maar dit lyk asof hy nie gras onder sy voete laat groei nie.

Veral nou met die wurms lyk daai gras mos die groenste! Julle, Wade is sowaar ’n graswewenaar – kan jy nou meer? Wurms! Ek skreeu my longe pap!

Ek wil steeds weet wat Nina se storie is. Hoekom is sy so behep met Wade? Hy’s ’n vreeslik aantreklike ietsie, dit weet ons almal. Stevie Wonder weet dit ook, maar dit laat my net wonder.

Miskien is dit ’n Ben 10-situasie. Ek slaap nie snags nie en my pilletjies is op. My ore hang!

Rebecca kan maar nou vir Uncle Pastor vergewe. Haai, dit lyk dan nou die arme man se lewe hang aan ’n flentertjie en ál wat die foon optel, is die dungesaaide vrou. Ronan Keating het daai morning gesing: “If tomorrow never comes”. Sal Niggie haarself dan kan vergewe dat sy nie vrede wou maak nie? Ek weet nie wat die oompie moontlik aan Becca kon gedoen het wat haar so ’n trossie suur druiwe gemaak het nie. Here daar bo, bring tog vir Niggie kalmte in haar hart, want sy sal moet deurkom met blomme. Die dorings maak diep eina!

Ek sal ook vir my so ’n klas of twee van die meditasie-besigheid moet aanskaf, want dit lyk dan nou dit het sommer die krag om jou eks terug te bring. Of wat kook nou weer tussen Zoe en Wade?

Ek soek ook die meditasie-geite of -bossies wat ek kan brand of ’n dansie wat ek kan doen of ’n ding wat ek kan gil, want dalk miskien kom my eks ook teruggedraf.

Genade! Is ek dan nou lus vir ou skoene aantrek? Nee, wag! Wyk, Satan!

Bianca kan nou gerus ophou met haar stront. Ek is nou moeg en die whiskey wat ek by my oom van Ierland gekry het, is op!

As ek Moena was, dan het ek haar saam met Wade na Nina gesleep. Dalk help dit.

Nina, stuur asseblief net ’n bossietjie of ’n ding wat ’n mens kan brand steek dat sy kan ophou deur haar nek praat. My wêreld! Stuur tog die kind rehab toe!

Sy sien kans om julle rot en kaal te besteel en ál wat julle doen, is hard praat?

’n Deurtrapte skelm sou my ma nooit gehuisves het nie. Nancy, nie my ma nie. Dis neusie verby, Pappa! Sy sou my lankal op die stoep laat sit het met my skottel vol gebakte pere!

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters