3 maande gelede
Wade se smart verwar arme Tyron al hoe meer
Dean Smith  ~ 

HULLE sê die sleutel tot ’n vrou se hart is blomme of diamante, maar dit lyk my in Chris en Vivienne se geval is dit kaste.

Genade! Kombuiskaste. Is daar geraamtes in? Smaak my so!

Hy het mos nou lus vir stoute skoene aantrek. Kan jy nou meer? Hoekom los mense nie die verlede net daar in die verlede nie?

Carike Keuzenkamp het mos van ’n dapper muis gesing. Ek dink sy’t van Chris gesing!

Vivienne het Chris blykbaar laas diep in die verleentheid gelaat. So, oom Chris, ek stel voor jy hou ’n agterdeur oop in geval niggie weer ’n bom los.

Tim gaan haal weer die bobbejaan agter die bult en is niks lekker oor die affêre tussen Chris en Vivienne wat weer kop uitsteek nie.

Toe die klong uitvind Vivienne was sy ma se destydse terapeut en Chris se ou flavour, word neef Gert galbitter!

Vivienne weet nie hoe sy dit het as Tim in die omtes is nie. As sy haar in haar handsak kon wegsteek, sou sy!

Ek weet nie hoekom sy so deur die blare lyk nie; sy weet presies wat hier aan die gang is. So, nana, loop jy maar lig. Tim is lus om met jou gal te werk.

Ian spoeg omtrent vuur toe hy hoor Lee-Ann en sy personeel help Mymoena met die sopkombuis. Hy kan mos maar vir elke bagatelletjie so tekere gaan. As hierdie man kompetisie sien, tap hy bloed uit ’n klip om te wen.

Hy voel hy moet daai wyksraadsverkiesing wen. In sy plig om die gemeenskap te “help”, besluit hy om nice te word. Man, ek praat van hy val plat en seil soos ’n slang by die trappe af, maak ’n bollemakiesie, ’n wawiel en swem borsslag in sy missie om al sy werkers in te span om die laerskool te verf vir brownie points.

Julle, die man het sakke vol planne. Niemand kan deal nie!

Na ál Wade se smart slaan hy nou tromme saam met Tamatiestraat en verwar Tyron ál meer met sy vreemde optredes. Dis nou tromme, môre is dit seker klinkende simbale. Ek bid saans my knieë nerf-af dat sy hartjie weer moet herstel. Die sap smaak suur uit die hand van ’n gebroke hart.

Een oomblik kan Bianca nie haar oë oophou nie en dan is sy so wakker soos ’n baba met winde in die nag. Niggie was ’n vreemdeling in Jerusalem toe sy die eerste keer daai “onskadelike” pilletjies sluk. Nou kry sy bestellings verkeerd, hap Mymoena se kop af, kom laat, glip vroeg uit – hier’s fout, diep fout! Sy blameer nou kamma die lang ure en baie skofte, maar dit is daai Lloyd-kalant!

Next time praat ons verder oor dié drama.

Sonlanders, julle kan voortaan elke Sondag saam met Marvin Borcherds tong in die kies besin oor die goings on in Ruiterbosch. Besoek sy Facebook-blad “SuidoosterMyNou”. Marvin vra dat jy dit like en share.

Meer Stories

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters