6 maande gelede
Waar kan jy beter sien met ’n doek en blush?
Jawaahier Petersen  ~ 

EK SÊ vir een en elkeen van julle vandag: Hoor jy? Vandag! As Tim my outjie was, kan hy maar op sy kop staan en deur sy poephol halleluja skree, ek weier om hom terug te vat!

Volgens my het Danni hopeloos te vinnig besluit om weer ou skoene aan te trek. Natuurlik lê ek snags wakker en wonder of dit ’n goeie idee was.

Dit sal definitief meer as ’n paar bokse pizza en romantiese DVD’s kos om my oor te wen. Jy sal vir my ’n wynplaas, ’n eiland of ’n ding wat blink moet koop, knapie, anders praat ons maar al aan deur die deur!

Danni smaak daar op ’n kol vir Izette rol! Kan ’n mens nou so sonder om te blik of te bloos onmin saai? Wie is die vrou se ouers, en hoekom het hulle haar só grootgemaak?

Sy moet verkas en regtig Mauritius toe gaan en net daar bly!

Dit lyk mos vir my as Wade en Ty nie meisies gehad het nie, het Chelsea-Kate sommer vir hulle ook kans gesien.

As jy deesdae ’n oujongkêrel in Ruiterbosch is, gaan Chelsea vir jou gaps, Pappa!

Die Here daar bo hoor my gebede.

Seuns, sit tog vir julle wigs aan wat op julle stêre hang sodat sy nie kan agterkom julle is mans nie! Dis asof sy daarvan hou om die outjies se beursies leeg te eet en drink. Of sy’s eenvoudig net soos ’n vlooi.

En niggie kan vir jou hoog én ver spring! Het julle gesien? Sy het Siya en Justin nou al so gebyt, die twee jeuk dat die honde huil!

Genade, sy weet nie eens meer wie is wie wanneer hulle so gaan sit en uiteet nie. Sy weet nie eens vir wie sy watse mediese advies moet gee nie.

Madam is heel deur die blare! Dit kom nou as jy jou lyf “voël op ’n tak hou”.

’n Verskriklike dronk vrou met haar laatperske-gesig het so twee weke gelede vir my gesê: “As jy goed lyk, voel jy ook goed.”

Kaashifa is nou wel nie dronk nie, maar sy is dan nou skielik kaatjie van die baan. Hoe kom sy só reg? Toe sy ná daai makeover instap, toe val ek plat op die grond.

Ek kon my lyf nie lig nie! Ek het my kop so hard gekap, ek het ’n vermoede dit gaan nog minstens 26 dae aaneen pyn. Genugtig, sy’s ’n heel nuwe mens! Sabrina het haar behoorlik kom toor.

Die enigste ding wat my pla, is: Hoe kan ’n nuwe kopdoek en pienk wangetjies haar ewe skielik beter laat sien? Het die vrou nou nie meer haar bril nodig nie? Die hele situasie (soos Jordans en ’n mangat op die beach) maak nie sin nie. Maar ek is g’n oogkundige nie, so ek hou my bek!

Hallie-Happies kan nou maar end kry. Ek is op. Ons almal is op. Ons is opper as die kospotte by ’n plattelandse begrafnis!

¦ Like seblief my Facebook-blad, Marvin Borcherds Waai Met Suidooster, nè?

Tot volgende week, dierbares!

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters