20 dae gelede
Ty en Frankie se vete kan nou maar end kry
denise newman, bridgette october, suidooster
Denise Newman vertolk die rol van Bridgette October in Suidooster.  ~ Verskaf

WIE laat haar man skaars vir twee minute in die sorgsentrum vertoef voordat sy weer lus is vir warm lê met ’n lang man in ’n 501 Levi?

Haar naam is Bridgette – Brid­gette October. Stuur genade!

Daar is nie ’n manier dat iemand so vinnig verlief kan word op ’n man wie se kop dieselfde hoogte is as die kandelaar nie!

Ek is verbaas arme Bridgette se nek het nog nie rumatiek van so moet opkyk nie! Die man is langer as Januarie en dit maak my grensloos bekommerd. Ek het nog nie een keer gesien sy slaan haar oë op na die berge om hulp te soek nie, maar sy slaan hulle, dolverlief, op na dié oompie. Ek bewe in my boots!

So van bewerasie gepraat! Het julle gesien hoe lê en tiep hierdie vrou in haar upstairs-huis? Tops is skatryk! Dis bottel ná bottel rooies wat sy verslind, mense, en dit wil mos maar gedoen wees! Een glasie laat my Hop, Johenna. So, imagine ek en sy drink saam? Die ou girl skiet haar morsig uit vir punte! Sy’s heeltemal by dit!

Man, sy staan daar op toe Mrs J en Lee-Ann wil kom versoening maak, maar is toe sommer regop op haar agterpote en trek weg met ’n stuk skel! Sy is net niks saggekook nie. Sy wen ál die pryse vir feeks wees! Iemand sal vir die vrou iets anders as drank moet voorskryf voordat niggie die lepel in die dak steek!

As die vrou bly lewe bly en kans kry om haar oë uit te vee, sit Tim in Ian se stoel. ’n Skoolvriend het vir my gesê dat hy op skool akademiese erekleure verwerf het vir onderduims wees. So, die knapie kén sy storie!

Die maatskaplike werker wat lyk asof sy skelmpies Danni se ma kan wees, het uiteindelik vir die Gerbers goeie baba-nuus gegee, maar verder kom huil Gloria daar met die hele mandjie patats. Sy kan kastig nie die baba alleen grootmaak nie. Hoe nou?

Dit smaak my die vrou is lus om Michelle-hulle se klere te was in ruil vir Pampers en gripe water. Ons kyk maar! My plat oë is die gereedste om dít te sien!

Die vete tussen Ty en Frankie-goed kan nou maar end kry. Wade het nou sy broer in ’n saak geplaas wat net daai predikant wat die mense so met die Doom spuit, kan red. As die Wade-klong nie wil bomme plaas met daai mal bossiekopvrou nie, dan wil hy dice.

Julle, in die land van die blindes is eenoog koning! Hy moet vir hom ’n ander werk kry en klaar! Ons is moeg!

Troos

Het Ty ’n begrafnispolis? Of is hy soos daai mense wat nie traak waar hulle gaan lê as hulle hul skoene uittrek nie, solank hulle DStv het? Dit lyk asof sy kerk sommer binnekort uit kan wees ...

Frankie is vies, hy soek vir Koos en ek lê weer heelwat op die foon met dominee om vir Wade te troos!

Jong, ons skinder volgende week weer. Koebaai!

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters