2 maande gelede
Tim wou net help, toe gooi Chris hom lelik uit
Simone Biscombe is Bianca in Suidooster.  ~ tvsa.co.za

BIANCA het nou wraggies te ver gegaan!

Die vrou het heeltemal haar varkies verloor! My knieë swik, ek val van die rusbank af, ek sluk drie kalmeerpille en gooi vir my vyf doppe brandewyn toe ek Stella alleen in die huis sien rondloop.

Die kind huil haar klein longetjies pap. Verder katterjak haar ma en Satan se neef aangeklam in Langstraat op en af!

Rhafiek en Carmen het mos nie kind of kraai nie. Wil hulle nie maar vir Stellatjie aanneem nie? Want Stefan smaak ook dan vir my so kalm – dis nie nou tyd om mooi broodjies te bak nie, Boeta. Praat!

Ek ken ’n goeie prokureur. As jy wil, kan ek details vir jou vanaand whatsapp?

Dis reg dat Rhafiek geweier het om die kind weer vir Bee terug te gee, maar niggie is nie op haar mond geval nie.

As sy die dag besluit om jou in te doen, doen sy dit sommer behoorlik! Sy’s ’n rou iets!

Jy sal sommer nou hoor dis haar kind. Meanwhile as die Kaap se disco-deure platgedraf word, wie se kind is dit dan?

Die vrou weet van ma-wees soveel soos ’n aap van godsdiens! Dis net geel pilletjies wat dit maak. Dan sien Mymoena nog kans om die vrou te beskerm?

Ai, dis seker maar ’n moederlike ding, nè? Maar nietemin – voordat jy in jou hande huil – nana, bel maar liewer die Priscillas, according­ orange is the new black!

Mense, die dinge is deurmekaar.

Verder weet AB niks van hoe die ding geruk het nie. Liewe aarde, ek is ten gronde. My senuwees hang aan ’n flenter en my bloeddruk is so hoog soos Oprah se hare in die 80’s was! Ooooe nee!

Arme Timmy. Daar is net altyd iets. Hoe is dit dan met jou, jong?

Eers vry een van jou beste pelle jou pa se nooi af en toe stamp hulle jou kar moer toe en hol weg.

Dis dan dít, dan dát. Jy moes maar jou pa gesê het en nie so kluitjie loop verkoop het nie, want kyk hoe bars die bom toe nou!

Daar belet jou pa jou nou van jou eie huis af reeds omdat jy hom wou beskerm. Die hele besigheid draai toe teen jou.

Jy het dan nou nancy herberg. Waar gaan jy nou slaap? Op die vlakkie?

Ek hoop hulle sorteer dié ding gou uit, want elke aand moet ek sit en sweet soos ’n gewonde bok!

Het julle al gesien as ’n mens ’n snoek koop, sommerso by die bakkies wat so teen die pad staan, verkoop hulle die glibberige dier met sy kop aan, reg?

Het julle al ooit gewonder hoekom ’n mens nooit ’n stokvis se kop sien nie? Laat ek julle vandag sê dit is lelik. Skreeulelik! Google dit vinnig en kom lees verder.

Nou, só lelik gooi Chris vir Tim uit net omdat Tim hom wou beskerm! Ek laat my nie uitsmyt nie – jy sal jou wat verbeel!

Die klong het maar net probeer goed doen en kyk nou. Ja, ou Timmy, soms is die lewe soos ’n kakkerlak – meer kak as luck!

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters