2 maande gelede
Tim word toe amper Stella se stief-stiefpa
versaf
Greta Petersen vertolk die rol van Michelle Gerber in Sonlands. Foto: Facebook  ~ Verskaf

DINGE skop toe sommer heel rof af! Die jaar 2019 is nog ’n pure fetus, maar die drama staan al weer so regop soos die duiwel in ’n besete mens se agterent!

Julle, Tim word toe amper Stella se stief-stiefpa. Dít alles van goedkoop shooters en verwaterde whiskey. Ek laat speel nie so met my smaak-kliere nie.

Gee my ordentlike wyn of skink vir my ’n glas yswater, gee my ’n bunnylick of ’n bompie!

Verder kon Tim en Michelle – so dronk soos ’n hoender – net niks onthou wat Oujaarsaand gebeur het nie.

Net uitgeslaapte soldate word in hulle onderbroeke wakker! Ek sou my maai af stres, want vir wat word ek in my onderbroek wakker en sy loop in my hemp rond? Die spanne sit confused!

Het hulle nou saam geslaap of net kaalgat tussen die kantoorblaaie en lêers gedans?

Adam sê dit is Eva en Eva sê dit is die slang! Genade, as dit nie vir Zoë was nie, was daar nou twee opgebreekte paartjies wat met bollewange rondloop. Ek het tog nie lus vir vies kêrels nie!

Bridgette het mos alewig ’n agenda. Ek sou net so agterdogtig wees as ek sien hier kom die nana aangedraf met goeie nuus en raad, maar sy wil regtig net help.

Sien jy? Dis van slinks wees dat mense jou nie vertrou nie. Jy sal dié jaar meer kerk toe moet gaan. Satan het nie hemel vir jou nie.

Mrs. J se werk met die ou oompie is vreeslik nou uitgesit. Die oupa vergeet als, laat val als en gaan gal af oor als. As die oupa jou ’n taai klap kon gee, sou hy seker.

Verder is Lee-Ann lus om die pastoortjie na ’n tehuis te pos, maar dis mos nie haar werk nie.

Toe daai oupa uitvind, sien hy rooi, bewe soos ’n riet, brand soos vuur, steek sy stêre in die wind en hardloop terug na Siya toe.

Dit kos Mrs. J smeek dat die stof so staan. Amper is sy weer ’n oujongnooi – allemagtig!

Carmen bied deesdae koffie aan asof sy ’n meestersgraad het in kelnerin wees! Dinge trek darem swaar vir die Samsodiens, nè? Niggie werk soos 10 esels.

Ek sou liewer my trots in my sak steek en terughol na Satan se neef Ian toe (al praat hy met my soos ’n lap wat skeur). Eerder dít as wat ek so hard moet werk.

Hoekom het die vroumens so gal afgegaan oor Bianca geld belê het? Sy sien dis elke aand net brood en jam en oorskiet-pizza wat sy by Oos-Wes steel, maar sy sien kans om ’n gasket te blaas?

Nee, meisie, jy kan maar gaan sit met jou ondankbare gees. Jy leef van die hand na die mond, bly dus stil. Sê net dankie en verder bly jy stil. Luister as ek praat!

Het jy nou lus om aanhoudend uit die water uit te eet? Jy’t ook mos darem nou en dan lus vir ’n stuk hoender van Nando’s, of hoe?

  • Die jaar 2019 hou sommer hope sepiedrama vir ons in. Wees deel daarvan deur my Facebook blad “Marvin Borcherds Waai met Suidooster” op Facebook te “like”. Maar wag, ons skinder weer!
Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters