6 dae gelede
Tim is gevaarliker as ’n skollie sonder voortande
Tim (Marco Spaumer) is weer besig met sy streke.  ~ Suidooster

JP SE klein jakkalsies het die wingerd heeltemal verniel en Carmen dans ewe jolig saam met die duiwel. 

Kan iemand dié mense asseblief die hande oplê? Ek is in ’n konstante toestand van verwarring! 

Watse tipe manne het Carmen haar destyds mee opgehou? Hoe gaan sy Rhafiek kan verskoning vra vir die feit dat sy goddeloos en bewus is van die gemors? 

Julle, haar sorry gaan nie eens ’n pyp dagga werd wees nie! 

Ek wil tog nie by wees wanneer Rhafiek gal afgaan op die dame nie. Ek steek my daai tyd onder die bed weg! 

Hier kry Quinton ook skoons ’n bullet in die hande van die man wat so vuil soos ’n otjie is op oom Daan se plaas. Dis hierdie tipe gedrag waarvan ek gepraat het. ’n Mens mag nie so lewe­ nie, ou pel! 

En wat is aan die gang met Tim? Dit lyk my die knapie is al weer lus vir Zoë se vere nadat hy haar ’n paar maande gelede nie kon verdra nie. Zoë erf mos nou al Bridgette se pitte en Tim sien net nulle. 

Sommige mense trou vir geld. Tim ook, hoor wat ek vir julle sê. 

Snags lê en worry ek oor Zoë se geld. Ek sweet soos ’n gewonde bok! Ek wil nie so voel nie! 

Wade, kom loer net asseblief by jou nooi in voordat sy haar goed vat en saam met Tim gooi! Daai klong is gevaarliker as ’n Kaapse skollie sonder voortande. Pasop! 

Nicci is so bang vir haar ma soos ’n kat vir water is, dié dat sy maar nou by Zoë as naasbeste troos vind. 

Ek wil dit al toelaat dat ’n hoogmoedige vroutjie wat van haar man se geld in ’n upstairs huis bly my só in die gesig vat! Ek wil weet waar sy so regkom. Mrs J het haar as kind te min geraps! 

Verder hardloop AB so vinnig soos Wayde van Niekerk van Mymoena se kos af weg. 

Sy steek haar stêre diep in die skuld by Shoprite en Checkers om bestanddele vir verskriklike duur koeke te koop, en die man wil nie eens ’n pap lip daaraan sit nie. 

Die antie was darem vir jou dié week omgekrap oor haar vriete! Ek het gelê soos ek lag vir hierdie dame se ongemak. Dit het vir my op ’n kol gelyk asof sy die brijani deur ’n drup wil druk net sodat die man kan eet! 

Dis reeds omdat sy hom aller­hande goed voer dat die man nou by suikersiekte se poorte gaan draai. Hoe kan jy alewig kos maak, amper asof jy dag ná dag in jou voorkamer basaar wil hou? Nee, maak die koskassies toe!

Onderbroek

Wag, man, ek wil nie so op dieselfde aambeeld hamer nie, maar die JP-mansmens krap my om soos ek my laai omkrap wanneer ek ’n skoon onderbroek soek. Hy’s skoons rou met arme, tingerige Kate. Sy maniere is lelik, man. 

Het julle al ooit gewonder hoekom hulle ’n stokvis sonder sy kop verkoop? Dis lelik. Google dit. Die man het stokvis-kop-maniere! Stop dit! Bel die polisie!

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters