28 dae gelede
Terugblik op dié jaar se highlights en geite
Suidooster
Die akteurs van die sepie Suidooster gee nie om om ekstra woorde te leer vir die nuwe Vrydag-episodes nie.Foto: Verskaf  ~ 

JULLE, in 2018 was daar drama soos Ruiter-bossies!

Ek het op ’n kol gedink dat ek beslis met ’n beroerte gaan wegloop! Kom ons kyk so ’n bietjie terug op ’n paar van 2018 se hoogtepunte en geite!

Ek ken ’n oom wat hier naby bly wat ál die jare die beste padda in die vlei was – almal was koekoes oor hom. Deesdae is hy stokoud en behandel almal soos slym, soos Ian doen, veral sy vroutjie wat my nogal baie aan Bridgette laat dink.

Onthou julle Ian het Bridgette amper gelos vir Yolandi? My Heiland, my hande begin meteens bewe as ek daaraan dink!

Onthou julle Tim se kop wat amper afgekap is deur daai skollies in die mall?

Genugtig, hy was darem ’n bitter pil om te sluk. Arme Danni het elke tweede dag op moedverloor se vlakte gaan huis opsit as gevolg van die klong!

Amper was daai konfytfles ook stukkend! Los maar jou skeermestong in 2018, boeta.

Die kerk sing kliphard, want Wade en Zoë se verhouding is nou soos ’n nuwe sikspens net toe ons dink dinge is nou finaal geroes.

Die mense het ons darem dié jaar laat stres, liewe aarde!

Wie sal dan ooit Bianca se bollie vergeet? Niggie het dit ook nooit maklik nie. Sy het ons siele darem verrinneweer!

Sy het omtrent weer in haar sondes gesit! Amper kom die Here, maar genade was haar middelnaam! Jy beter mooier leef in 2019, anders loop jy weer onderdeur, sussa!

Danni, jy het darem ’n stryd met daai Eben-vent gehad, nè? Amper sit AB sonder ’n Moena soos die man dinge deurmekaar wil kom krap! Danni en die pa sit ook darem nou weer om een vuur. Daai kwaad-saak was darem ’n gemors!

Lee-Ann, Adam het vir jou ’n vreeslike streep getrek, maar toe appear Ty soos jou “knight in shining armour”. Lee-Ann is seker so pap gestry aan daai Ian-man. Gaan rus nou sommer tot Junie!

Verder het Michelle en Stefan ook opgemaak! Hulle sê jy moenie in Desember in ’n verhouding tree nie – hulle wil net jou bonus opeet. Versigtig, Januworry het 91 dae!

Siya se verkragtig. Sjoe, Dok, jy’t ons honderde liters trane laat huil!

Daai boewe dog hulle kon jou ’n ding wys, maar hulle twak is nat, ou maat!

Mrs. J en Oom Ronnie – ag moeder! Hoe meer siele, hoe meer vreugde. Julle is te kostelik, man.

Nou het Justin vir hom ’n hond aangeskaf wat vreeslik blaf. Almal is vies. En die brak se naam is Beyoncé? Ek gaan nou slaap!

Toe Carmen en Rhafiek die dag besluit om hulle stêre in die wind te steek, het hulle geweet hulle hou die agterdeur vir die duiwel oop. Hulle weet dan hoe giftig Ian is, maar hulle loop soek nog skoor.

Tussen die lepel en die mond val die pap op die grond! Hoekom luister niemand as ek praat nie?

Mag julle ’n wonderlike Kersfees hê! Ons skinder weer volgende jaar.

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters