2 maande gelede
Stefan paai sy gewete met daai job vir Gloria
Gideon Lombard is Stefan in Suidooster.  ~ foto verskaf

HIER op ’n kol het dit gelyk asof Danni en Tim ál die pryse wen vir couple van die jaar, maar deesdae lyk dit asof Aspoestertjie se glasskoentjie morsaf gebreek het.

Die twee stry ’n hond uit ’n bos uit en weer terug in die bos in.

Kan julle dit glo? Is die konfytflessie nou heeltemal gebreek?

Hulle hap dan aan mekaar soos twee honger leeus wat ’n week laas geëet het.

Dit lyk asof Danni nou weer ou skoene wil aantrek en saam met Justin die heuwels wil inhol. Verder knip Izette haar oë vir Tim asof daar stof ingewaai het.

Die lawwe meisiekind speel met allerhande vuur. Sy weet duidelik nie dinamiet is in klein pakkies toegedraai nie. Danni gaan haar mos hárd moer. Sy’s klein, maar die hardegatste in die Wes-Kaap.

Ek doen ’n beroep op die plaaslike polisie, die dorp se predikant en die koor om vir Izette ’n ordentlike waarskuwing te gee. Ek het ’n vermoede so sterk soos Tarzan dat Zoë ook al lus het om haar twee van die bestes te gee.

Niggie is besig om die duiwel se briewe te lees en dit maak my moeg. Daar was ’n jong dametjie saam met my op skool. Haar naam was Dikvellig van Niekerk en ek en sy was nog nooit maats nie.

Hier bied Stefan nou vir die ongelooflik senuweeagtige en raaiselagtige Gloria ’n werk by Oos Wes aan en doen alles in sy mag om sy gewete te sus wat so aan ’n flenter hang.

Ja, Oompie, jy sal Gloria nou sommer as manager moet aanstel en jou geheime verder stil hou, anders eet jy tronkkossies. Papa wag klaar vir jou.

Moenie so verkeerd leef nie. Die Here het dit niks lief nie. Jy het ál die gebede nodig wat jy kan kry, voordat jy maak soos ek nou nog met Mario Bros maak – mang!

Dit lyk asof Mymoena nou darem herstel het nadat Carmen haar winduit geslaan het met daai effense kookkompetisie. Die girl het sommer nou ’n aanlyn kookprogram. Ek is ook maar bly dat sy haar deesdae daarmee besig hou, want anders is sy hopeloos te ledig.

Hulle sê mos ’n gedurige gedrup maak ’n gat in ’n klip. Nie dat ek weet wie dié hulle is nie, maar hulle sê so ...

Dis seker ook maar reg so, want nou weet ék ook hoe ’n mens half moons maak.

Verder jak AB daai afgryslike bont hemp soos iemand wat vir sewe dae en ag nagte Mauritius toe gaan. Dis die hemp meer as die kullery wat AB so omgekrap het.

Op ’n kol het ek gedink die man gaan die vrou skei. Man, die hele besigheid is moerland toe!

Hallie-ha, hy het nou glad fans nadat hy sy debuut op Moena se show gemaak het. Moena kry ure aaneen bobbejaanstuipe en ek slaan my oë op na die berge!

Like asseblief my Facebook-blad “Marvin Borcherds Waai Met Suidooster” en kom skinder lekker saam! Tot volgende week!

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters