Verlede maand
Stefan en Michelle bars van trots oor Albert
suidooster
Michelle en Stefan Gerber in Suidooster.  ~ Suidooster

DIÉ dat Bridgette en Zoë nog winterpajamas dra, gee selfs vir my ’n tipe klamte!

Ek’t gister gesien Ackermans het ’n sale op daai pakkies met die frilletjies aan. Ek doen ’n beroep op een van julle om tog die boodskap oor te dra.

Ek vra al jare hoekom die mense nie hulle deure sluit nie. Hier hol skelms in die huis in soos miere in die somer. Ek weet nie in watter gedeelte van die Kaap hierdie mense bly nie, want waar ek vandaan kom, steel die boewe skoons jou woorde uit jou mond uit. Maar niemand luister ooit vir my nie.

Almal dink ek het ’n B-graad in k*kheelkunde.

Daar sit Mymoena amper sonder ’n deep fryer, AB amper sonder sy bloeddrukmasjientjie en verder lewer hierdie aksie die Kaap se gesondste skelms op wat hulle sit en dik vreet aan die slaptjips terwyl hulle hul bloeddruk toets. My nommereen-gebed is steeds vir genade van doer bo.

Ek is bly om te sien Bennie se foon het airtime gehad, want hy’s so ver van Whats­App af soos ’n sfinkskat van ’n ponytail af is. Maar tog is hy vir eers die held. Ek en sy mamma is diep trots op hom. Maar nou wil hy nie meer “Bennie” wees nie? Hoe nou gemaak? Iemand sal nou aan die mannetjie ’n masker en ’n toga moet skenk, want hy wil nou van huis tot huis vlieg soos ’n dors muskiet op soek na ’n geïrriteerde slagoffer. Doen dit, Bennie, ons makeer mense soos jý, nie daai ander ongemanierde skepsel nie. Wag, laat ek liewer my smoel hou voordat ek weer op ’n stippellyn moet teken wat my R500 kos.

Hier is die hele Samsodien-familie weer lus om by Bianca se liefdesake in te meng. Waar kry hulle die krag? Ons almal weet Bianca se verhoudings val so plat soos tien koeke sonder bakpoeier. Veral daai Carmen sit haar so uit oor Bianca se rooi hakskeentjies.

Ek glo stellig álmal – veral ek – moet net bely en laat staan. Sit tog net daai pienk bos blomme in die water en gooi daai goed in wat die bloemiste bygee om dit langer aan die lewe te hou. Dis te mooi om te vrek.

Arme Michelle en Stefan het amper op ’n bustoer deur die land gegaan soos hulle vir baba Albert kan afshow. Mense, die nuwe ouers is so opgemaak soos ’n mandjie vol lekkernye wat jou ouma vir jou inpak as jy van die plaas af universiteit toe terugkeer. Maar hier verskyn Gloria in ’n tipe groen bloes wat vir die gholfbaan se gras nie skrik nie.

Michelle is gereed vir oorlog en Stefan kry ’n klontjie vir die poets wat die vrou gebak het. Michelle is lus om ’n grot in te vaar en vir Albert tussen die stalaktiete te sit en grootmaak. Die kerk, uitsluitend die koor, is verbouereerd!

Sommige mense ruik na sweet, want spuit kom altyd te laat. Ons skinder weer volgende week!

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters