3 maande gelede
Rhafiek kan finally vir hom ’n nuwe lewe bou
Irshaad Ally vertolk die hoofrol in Nommer 37.  ~ 

WEET julle, ek het twee dae gelede vir my ’n daily Lotto-kaartjie gekoop wat R3 gekos het en R20 terug gewen.

Ek was so in my noppies, dit het vir my gevoel asof ek uit die tronk vrygelaat is of vir Oprah ontmoet het, want daar het ek nou ’n R20 om ’n cheap hoender pie en vier bompies te koop.

Om ’n R20 te wen maak ’n mens gelukkig, veral as jy niks in jou rekening het nie – maar vertel dit nou vir AB Samsodien!

Gaan daar ooit vrede tussen AB en Rhafiek wees?

Ja, Rhafiek het ’n klomp geld gewen en in sy geval kan hy vir hom ’n Pie City-franchise en ’n bompie-fabriek oopmaak.

Met ander woorde, hy kan vir hom ’n lewe bou, maar sy pa wil hê dat hy vier stewels in die lug lê!

Watse pa doen dít? Van wanneer af is dit ’n ouer se plig om afgunstig op sy of haar kind te wees? Dis óf AB sluit môre by die AGS-kerk aan en aanvaar sy kind se lot óf hulle verhouding val plat soos ’n rower wat sien hier kom die laws!

Dis ’n hele Sabbatsreis daarheen. Ek is seker die mensdom is in staat tot mooier maniere!

Rhafiek lê en sweet nou al maande soos ’n gewonde bok by die huis oor ’n inkomste.

Party aande kon hulle net water kook om die winde te breek wat die hongerte veroorsaak en ander tye het hulle ’n pot rys gekook.

Die arme kinders was te lank moeg, honger, kwaad en benoud oor geld. Gun hulle die gemak van ’n trippie ATM toe!

Waar is Ian se ouers? Wie is hulle? Roep hulle, ek wil met hulle praat! Só kan dit nie aangaan nie. My toestand verswak, my knieë swik en my senuwees hang aan ’n flenter!

Mense, jare al loop die tiervel-baadjie-vrou met die bebloede hemp van Mrs. J se oorlede man rond. Wie se kind is sy? Ek blameer haar ouers!

As Bridgette en Lee-Ann maar net moet weet dat dit deur Ian is dat hulle stadig agter hulle pa se kis aan moes stap daai morning, is daar vir jou k*k in die land van Kanna! Ons Hemelse Vader moet my asseblief tot dan lewend hou, want ek wil dit sien – nie lees of hoor nie!

My broer en sy vrou het ’n rukkie gelede uit ’n woonstel in Gordonsbaai getrek om by hulle eie een in te trek en hierdie week kry ons woord dat Ian daai plek vir Sharon gekoop het! My broer val op sy rug, ek dolwe die kas om op soek na kalmeerdruppels en die kat begin onwillekeurig miaau!

Ek is net bly die deurgetrapte skelm het nie bo-op hulle ingetrek nie, want dan het my skoonsuster regtig Rooi-Els se bobbejane agter die berg gaan haal en gewys hoe hol hulle!

Onthou om my Facebook-page “Marvin Borcherds Waai met Suidooster” te like en te share. Ons skinder daar ook lekker. Mooi week, dierbares!

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters