2 maande gelede
Pierre se terugkoms is glad nie toevallig nie
denise newman, bridgette october, suidooster
Denise Newman vertolk die rol van Bridgette October in Suidooster.  ~ Verskaf

ONS almal wag mos nou al van Easter af vir Wade om sy license te kry.

Ek glo stellig ons sou tot Kersfees toe gewag het as ons nie ons bekke gerek het en gesê het hoe moeg ons is nie.

Ek verstaan daar’s baie mense wat nie met hulle eerste probeerslag slaag nie. Selfs ek was 74 keer weg, maar nee, o nee. Een persoon se license kan mens nie só sit en afwag nie. Dit het gevoel asof ek ’n realiteitsprogram kyk. Dan speel hy nog kliphard die Klipwerf Orkes se liedjies voor die October-huis! Amper koppel hulle my aan ’n masjien!

Verder is Stefan soos Rufus wat rondhardloop nadat sy eienaar die hek oopgelos het. Wat makeer die man? Het hy in die tronk op sy kop geval? Wie het hom getoor? Wat het hulle in sy kos gesmyt?

Die dokter het dié week hoë bloeddruk by my gediagnoseer oor die man se grille! As julle hoor ek het die emmer geskop, dan stuur julle vir Stefan my Avbob-rekening! Genugtig, g’n mens kan só te kere gaan nie. Wat baat dit jy is oulik maar so mal soos tien hasies? Dis goed Michelle­ los hom. Maar vir hoe lank? Niggie se hart is mos sagter as brood wat drie dae in water gesoak het!

Arme Zoë vaar Oos-Wes in met ’n huppel in haar stap om die mal man geluk te wens. Nogal met ’n bottel wyn en blomme. Kaantie skel hy haar vieslik uit en sy’s stert tussen die bene daar weg. Mense met vuil maniere vermag maar baie min in die lewe, so, laat hy maar praat soos ’n lap wat skeur!

Pierre kom anderdag in Ruiterbosch aangewals nadat hy jare in Australië loop skelm speel het. En vandag het hy sommer die reg om mense wat aandeelhouers is, links en regs af te dank? Waar kom hy so reg met sy growwe stem soos ’n koffiemeul! Bridgette gaan in haar hande huil, los haar. Nee wat, niggie se kerk is uit. Een van die dae bly sy nederig in ’n kamer in Mrs J se huis en eet smiddae ’n peanut butter-toebroodjie. En dit alles oor jy lus is vir ’n man! Staan terug, Sera, en sien hoe die man jou verkul! Moenie die hoender ruk nie!

Arme Carmen en Rhafiek is hierdie jaar al klaar deur ’n hongersnood. Nou staan hulle weer die kans om saans net rys en brood te eet. Daai Adrenalin-plek van Rhafiek sal nou éérs toere moet verkoop, anders sit hulle teen Woensdag op straat!

Ek het ’n vermoede so sterk soos ’n anakonda dat Pierre se vrou vir hom oorsee sit en wag om Brid­gette se Suidooster-pitte te bring. Hy het hopeloos te vinnig daar verskyn. Iemand het vir iemand gewhatsapp en gesê Ian lê soos groente op Bellville se markie en skielik steek hy uit. Niks in die lewe gebeur toevallig nie, behalwe goedkoop wyn, Suid-Afrika se presidente en ons petrolprys.

Verder word alles fyn deurgekam soos ’n mamma-aap wat haar babatjie vir luise inspekteer!

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters