Verlede maand
Nina gaan my op ’n gasmasker en drup kry
Charlene le Roux is Nina in Suidooster  ~ foto verskaf

HIER is groot moeilikheid in die land! Bomme word geplant, Ian is so vies soos wolf was toe jakkals botter aan sy stêre gesmeer het.

Wade raak soos ’n groot speld weg en Zoë is deur daai Kumbaya-vroumens ontvoer! Moeilikheid van epidermiese proporsies!

Nina het dit nou amptelik reggekry om almal te verwoes in haar poging om die aarde te red. Die duiwel sit regop in haar agterent.

Aand ná aand sit en kyk ek hoe sy al daai gypsy-agtige mense om die bos lei met haar slinkse planne en wilde oë soos ’n gemsbok!

Dan het sy boonop die handlangertjie wat die slange jaloers maak met sy gif.

Waar broei dié mense uit? Wie het hulle geskape?

As hulle die vrou nie binnekort vasvat nie, lê ek oormôre op ’n hoë hospitaalbed met ’n gasmasker en ’n drup aan. Sy speel met almal se gesondheid en ek laat my nie siek maak deur basaar-demone en sirkus-engele nie. Se voet!

As jy weet wat goed vir jou is, dan soek jy nie stront by Lee-Ann nie. Sy weet alewig waar dit brand. Die vrou sal jou dagga uit jou luggage uit ruik!

Nina het dit ervaar, maar ken jy vir dikvellig? O, Here, liewe Heksie sal moet regsê, anders is sy een van die dae – soos Nataniël sê – so oud soos ’n ouma in ’n rolprent met opstaanskouertjies en ’n lyf wat afsak tussen haar arms en bene soos ’n hysbak in ’n verlate gebou.

Almal is in rep en roer – Ty hol rond soos ’n afkophoender.

Die arme man is so verward hy loop sommer by die huis uit op soek na oplossings sonder om sy hemp te stryk of sy gesig te was.

Nina hou vir Wade en Zoë op haar boot aan met ’n bom – my Heiland! Ons moet die vrou laat tronkkos eet! Sy sit ons deur hopeloos te veel!

Al die gepik van Danni deur oom Willie se goed het haar eindelik vrede gebring en oom Willie se ex bag steek kop uit.

Genade, ek kan my nie indink hoe eensaam Willie se laaste jare moes gewees het nie.

Die wêreld was destyds so wreed dat hulle nie openlik hulle liefde kon wys nie en nou is dit te laat – die oom is ses voet ses! Dis hartseer. Foeitog.

Noudat Carmen ook nie werk nie en die besigheid nog nie van die grond af is nie, kan hulle mos solank lekker vir hulle ’n huis­winkeltjie oopmaak totdat Rhafiek ’n huis in Kampsbaai verkoop kry.

Almal het brood, melk, bompies en Bunny Licks nodig.

Dié week was die wêreld darem warm – gaar voëls het uit die lug uit geval! Ek weet nou nie meer watter kant toe die storie gaan nie. Ek raai gewoonlik reg, maar ek is nou so confused soos ’n baba in ’n topless bar!

Onthou om my Facebook-blad “Marvin Borcherds Waai met Suidooster” op Facebook te “like” en “share” en wees deel van al die drama van Ruiterbosch!

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters