22 dae gelede
Niemand se vel is so dik soos Sharon s’n
Sharon
Sharon het haar verskyning in Suidooster gemaak.  ~ 

EK HET in ’n klein dorpie grootgeword. Daar was omtrent 17 huise, ’n kerk, ’n dokter, ’n mechanic en ’n sjebeen.

Drie huise links van my af het ’n seuntjie gewoon. Sy naam was Ralfie. Soos enige kind wie se ouers afsydig is of rook, het hy ’n onverklaarbare behoefte gehad aan geselskap. Smiddae ná skool het Ralfie aan my deur kom klop terwyl ek nog eet en gevoel hy moet karretjies speel en boomklim.

Hy het aanhoudend gepraat, wat my op tien jaar oud amper in ’n koma geplaas het. Eendag word ek toe gatvol van Ralfie se babbelbek en vra vir my ma om vir my ’n pop te koop – sy bring toe vir my ’n lappop.

Een middag kom klop Ralfie nog so aan die deur en ek en Geraldine (die lappop) groet hom. Hy het nooit weer met my gespeel nie.

Deesdae as mense te veel praat, gaan haal ek vir Geraldine en sit haar langs my neer. Dit gee mense ’n tipe ongemak wat hulle huis toe stuur.

Julle wonder seker hoekom ek dit vir julle vertel? Ek het gisteraand gelê en dink dat ek vir Geraldine, die lappop, aan Bridgette moet skenk om daai vieslike, ongemanierde Sharon weg te hou. Die vrou met die goud-en-peper hare het die vermoë om jou lelik uit te tart!

Sy laat my so dink aan daai sakevroue in Voortrekkerweg as jy ’n minuut ná tien in die aand verby die Northlink-kollege in Bellville ry. Die ewebeeld. Ek gee R100 kontant aan enige iemand wat vir my ’n mens met ’n dikker vel kan wys as dié Sharon-vroumens. Nee, sy is eenvoudig net te grillerig vir my oë om te aanskou, want ek simboliseer onskuld!

Ian, hier kom jou krank in ’n uitdagende rooi rok. Bridgette, die bordjies is verhang, hier lê al weer vir jou aapstuipe voor.

Ek wil nie op dieselfde aambeeld hamer nie, maar as Tim iewers betrokke is, stort geboue in duie, mense roep na hulle ma’s en hanepootdruiwe word nooit soet nie. Danni sal nie met hom kan wees nie. Imagine daar is kinders betrokke. Klein Chucky’s? Nee, die klong is ’n sak vol moeilikheid! Laat staan, Danni!

Hier op ’n kol het ek gedink ons gaan hierdie keer regtig vir Danni onder die sandkombers bêre, maar toe skiet sy daai goddelose kat wat Izette vermoor het in die knie dat hy stil lê in Tygerberg. Daglig moet hy nooit weer sien nie. Hy moet daar lê en kwyn in sy ellende, moedersielalleen!

Dit lyk vir my Justin en Siya het nou klaar gerinkink met die lawwigheid van hulle twee wat gelyk een meisie wil date. Genade, die hele situasie wou my ’n drieling laat kraam sonder verdowing of ’n keisersnit! Ek is so bly die snert is verby!

Ek’s so opgewonde om te sien wat volgende week gebeur. Ek sit oopbek soos ’n voëltjie wat sien sy mamma is op pad met ’n wurm! Ons skinder dan weer verder!

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters