13 dae gelede
’n Werklose vrou kan mos nie haar haartjies GHD nie
Portia Joel  ~ 

AL WAT leef en beef in Ruiterbosch soek nou die ster wat die koms van Gloria se baba moet aankondig!

Dit smaak my die geboorte van hierdie kind kan nou die grootste ding wees wat Ruiterbosch ooit getref het. Dit traak niemand nou dat Wade karre in die sloot ry en of Yolandi nog leef nie. Nee, hier’s ’n baba!

Michelle wil so graag dié baba van Gloria hê. Ek sien hoe sit en doen sy skelmpies in die apteek aansoek vir werk by Huggies vir daai staff discount, maar as Gloria gaan kop uittrek, is dit neusie verby vir dié broeise dame.

Dié mense kan net nooit wen nie, man. En dit laat my ontsettend sleg voel.

Ongelukkig vir madam kan ’n mens nie ’n baba oor die toonbank koop nie, want anders het niggie nou al ’n crèche gehad!

Chris wil nou kastig vir Gloria Phalaborwa toe stuur. Waar kom die man so reg om te wil wet slaan? Hy steek ál wat ’n mens is op om gekant te wees teen die aanneming van die baba. Hoekom berispe hy nie sy eie onnutsige klong wat net so uit die wil uit lewe nie?

Kan iemand asseblief vir Chris whatsapp en vir hom sê sy neus lê hier in iemand anders se sake. Sê hom aan om dit oor 10 minute of minder te kom haal! Genade!

Van wil inmeng moes hulle hom laas weg pos vir ’n tyd lank. Dit lyk my besig se baas sal weer moet verkas. Hy is heeltemal te oorlams!

Daar vat Bridgette dronk-dronk in September ’n taxi home affairs toe om haar October-van terug na Jacobs te verander! Kan jy nou meer?

Verder is Zoë meer aangebrand as wat my oats-pap Dinsdagoggend was. Ek staan en skuur nou al heelweek die ou “Hart”-pot se swart merke sonder sukses!

Die mense se maniere los letsels in die vorm van plooie op my voorkop! Hier is Rhafiek nou die leier van die buurtwag soos watse kolonel! Die mannetjie kan darem sy gewig rondgooi as ’n mens hom die tyd bied, nè?

Ons almal weet die gevaar kriewel nes uitgekletterde kokkerotjies daar buite, maar hy sal sy humeur moet beheer of by sy pa hoëbloeddruk-pille loop aanvra!

Ek is rasend bly Lee-Ann het darem nou haar ou werkie terug. Die brood kos al R15 en moenie eens van die bier praat nie!

Nee wat, in vandag se tyd kan jy nie bekostig om werkloos te wees nie. Veral nie as jou hare ge-GHD moet word en jy bont rokkies wil dra nie. Werk meisiekind, moenie dat jou beursie en haar sente jou beskinder nie!

Hier kom Bennie aangewals en kikker my lewe op. Die mannetjie laat my so aan Bertie van Egoli dink. Hy’s alte lieflik; praat vreeslik uit sy beurt uit, maar tog lieflik.

Mense, en daai kombuis nadat Bennie brekfis gemaak het? Nee wat, kraak ’n eier in my mond en stoot my by die deur uit!

Ons skinder weer volgende week. Koebaai!

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters