2 maande gelede
Mymoena dans tango agter daai kospotte
Jill Levenberg speel Mymoena Samsodien in Suidooster.  ~ foto verskaf

IEWERS op ’n kol in my lewe het ’n vreeslike angsbevange vrou – haar naam was Natasha Lentit – my gevra: “Hoe kan ’n mens nou huil vir goed wat op die TV is?”

Jong, ek het haar nét so met my slap oë en hang-wange aangekyk, want ek self weet nie!

Die lewe is ’n lawwe ding vir ál wat leef en beef in Ruiterbosch!

Lee-Ann en Bridgette droog Mrs. J se trane met ’n spaghetti-mop van die vloer af op en Siya oorweeg om haar op ’n slaappil of op ’n drup te sit. Man, dis net ’n deurmekaar situasie.

As ek Mrs. J was, dan vat ek my pensioengeld, book vir my ’n trippie oorsee en duik vir my ’n Spaanse vis los. Maar nou ja, dis as ek sy was …

Ek’s lus en stuur sommer vir ál wat ’n sielkundige is in Suid-Afrika ’n e-pos om net te kom red wat nog te redde is, want so kan die arme vroumens nie in haar ellende lê nie.

Ek weet nie aldag wat die Here wil hê nie, maar ek weet beslis dit is nie een van hulle nie.

My ma het altyd vir my daarteen gewaarsku om niks te kou waarvan ek nie die naam kan uitspreek nie. Dis hoekom ek eers hoender begin eet het toe ek tien was.

Nou wat sal Carmen makeer om die uitheemse Franse terte te wil bak?

Sê die ding se naam is lemoentert. Sy crème le fra – ga! Nee! Noem die ding op sy naam, man!

Almal wat asem het en die Here loof, weet dat g’n mens vir Mymoena in ’n stukkie kosmaak moet aanvat nie. Ek waarborg jou jy sal verloor!

Die vermetelheid van Carmen om met haar skoonma te compete, het my só laat stres, ek bel toe sommer my bekeerde antie in Namibië net om ’n kort gebedjie op te sê om die lawwe vrou tot haar sinne te bring.

Rhafiek het uit die staanspoor geweet die vroutjie van hom maak ’n fout.

My vriende is prokureurs. Ek laat hulle solank vir julle die skei­papiere opstel, want hier’s julle nou besig met k*k!

Mymoena staan en dans tango en cha-cha agter daai kospotte. Sy’t niks aandag vir niemand oor nie. Arme AB kry nie eens ’n “haalie-ha” nie, wat nog te sê ’n halwe samoesa, my donner!

Laat dit nou vir almal wat kanse vat, ’n les wees. Moena lyk asof sy vuis kan slaan! Bepaal jou net by jou eie sake voordat jou neus ses liter bloed lek!

Chris dink Ian se bietjie hulp met daai Jenny-goose was genoeg om hulle besties te noem, maar ek los hom. Hoor is min.

Wie is die Louis-klong wat ál Stefan se rolls en doughnuts sit en opeet?

Verder was hy ál wat ’n kar is in die parking lot. Wat is die klong se storie? Ek ruik 15 rotte.

Sy naam staan heel bo op my gebedslys. Ek het ’n tipe ongemak wat ’n kat het as jy hom na waters toe wil vat ...

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters