7 maande gelede
Mymoena bak en brou sonder enige perke
pla: Mymoena (Jill Levenberg) pes haar man om in ’n video te verskyn. foto verskaf  ~ 

HIERDIE Gloria-vrou laat my dink aan my crèche-juffroutjie – sy was so bleek, alewig ’n jersey aangehad wat lyk soos ’n papiersak en het nooit haar hare gekam nie.

Vir so twee weke en ses dae was sy my rolmodel maar toe beweeg ek aan. Ek kyk nou op na Michelle.

Michelle laat my dink aan myself. Ons is albei saggeaard, gebruik te veel Samsung se beauty filter en loop rond met ’n toegeskroeide gewete. As enige kind nie soos ons twee wil wees nie, dan maak julle julle kinders hopeloos verkeerd groot!

Daar kry Gloria Louis se stukkende groen baadjie soos watse speurder! Jong, meisie vlieg die Gerbers in soos iemand wat van ’n warm pan af wegspring. Ek het nog nooit so iets in my 93 jaar beleef nie. Lady Gaga het eendag van ’n poker face besigheid gepraat, so lyk hierdie spanne se gesigte toe Gloria in en uit begin vra. Hier’s warme stront!

Die vroutjie het my nogal baie geleer. Kyk, in die dae toe mense nog mekaar geken en oor en weer gekuier het, het mense mos hulle Tupperware gemerk met ’n koki of nail polish. Sy ruik Louis se baadjie uit asof sy vir Snuffelgids werk. Sy lyk asof sy jare lank nie gewerk het nie, maar dis beslis nie die geval met haar neus nie … Nee kyk, dit werk!

Hoe lyk dit vir my asof Bridgette en Gloria eendag vennote gaan word as Stefan mang? Vertel dit oor! Ian, jy is mos lus vir enige nuweling wat ’n rok dra in Ruiterbosch, jy kan mos lekker vir haar ook chise. Sy smaak hoeka ’n moentjie en ’n nuwe man!

Die wat Izette en Tim nou so donkie vasmaak, stuur my al hoe nader aan ’n beroerte! Weet die mense nie as jy in ’n ander persoon se slaai krap, vorder dit nie veel verder as ’n bloedkol op ’n sypaadjie of ’n dowwe foto in ’n koerant nie? Dame, jy het twee keuses: Of jy los jou werk by Suidooster Eiendomme, of Danni kom vertel jou wat vis in die Kaap kos. Sy is lus vir speel en dit maak my sielsmoeg! Ek is op onder die slegte maniere en mense wat leef asof die hel nie bestaan nie. Maar niemand luister na my nie, nie eens een van my vier los kinders nie!

Hoekom is Zoë en die Izette-vyand nou boesemvriende? Hoekom doen sy dit? Ian betaal haar seker ’n incentive, want geen regdenkende mens op God se groen aarde kan so voorbarig wees om met ’n kobra maats te wees nie!

As Mymoena nie vandag ophou bak en brou nie, gaan AB haar definitief skei! Daar is nie meer ’n krieseltjie eier of olie oor in daai huis nie. Die foon word permanent gecharge om nog ’n video te maak en Oos-Wes se meel raak al hoe minder. Ek vermoed Bianca sal maar bestanddele moet gaan steel. Sy weet mos hoe ’n mens dit doen!

My hele siel pyn soos ’n vrot tand.

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters