4 maande gelede
My gebede het opgedroog vir al Tim se moeilikheid
Vashti en Marco Spaumer, wat haar kêrel in Suidoos
Vashti Prins en Marco Spaumer speel Tim en Danni in Suidooster.  ~ Suidooster

JAN Pierewiet, Jan Pierewiet, Jan Pierewiet staan stil. Goeiemôre, Izette, jy lyk al te pret, goeiemôre, ou Tim, ek maak alles wim!

Sit ’n sagte kussinkie agter jou rug, gooi vir jou ’n sterk dop of maak vir jou ’n fles camomile-tee, ek wil vir julle ’n vetterige stuk sny.

Man, dis vetteriger as gistermiddag se KFC! As jy asma het, gaan haal jou pompie!

Vandat ek my verstand bietjie dag gelede gekry het, is Tim en Danni saam. Maar nee, hier steek mini-Yolandi soos ’n wilde mush­room­ uit. Niggie is besmet met gif, besete van Satan, ge-olie in kwaad en begrawe in tonne sonde!

Soos seep gly sy oor die gange en strate van Ruiter­bosch­ vir mense om eers later agter te kom die geitjie is eintlik ’n pofadder.

Was dit nie gister dat Tim so gal afgegaan het oor Chris wat met ’n lady of the night lol en gemaak het asof hy dominee Du Plooy is nie? Nou wil hy voor Baäl die knie buig!

My ma het altyd gesê “vee voor jou eie deur”, “soek die balk in jou eie oog” en al daai 68 verdieping hoë sêgoed.

En sowaar as vet sal die Tim-mannetjie vir hom ’n digger loader, trekker en ’n span van ses tot ag mense moet aanskaf om sy gemors skoon te maak.

My gebede het opgedroog, want jy laat dit toe dat die duiwel jou nat smyt met sy vuil water! Die wêreld is aan die gang.

Heiland, die Izette-skepsel is ’n trok vol moeilikheid. Daai ander asvaal blondekop-seun wat kamstig haar boo is, lyk egter soos haar stiefboetie en hy sit agter die hele geldstelery.

Iewers op ’n verlate vlakte broei hierdie tipe onafgeronde, skelm mense uit. Ek het al 15 van hulle ontmoet. As jy drie of meer woorde met hulle wissel, is jy ’n maagpyn gewaarborg.

Sy laat my dink aan ’n vlieg in die somer wat op jou gesig wil paartie hou terwyl jy wil slaap – lastig, laf, waaghalsig en geniepsig! Waar’s die Doom?!

Almal het gedink Stefan-hulle kon die ou Gloria ’n streep trek met Louis se dood, maar hulle maak hulle laat en nou sit Michelle in ’n doodloopstraat!

Almal huil nou snot en trane en Michelle sit nou weer, nes ek, sonder ’n maat. Genade, wees asseblief ons vreugde!

Saans lê en bid ek vir herstellende harte en gemiddelde bloeddruklesings terwyl ek almal se sondes, insluitend my eie, met ’n 2F-bak Farmhouse Caramel-roomys afsluk!

Verder hou Bianca net deesdae vir haar mejuffrou Social Media Manager. Hoekom gaan kyk sy nie na Stella nie? Jy is nou ’n enkel- ouer, so sit asseblief rustig daai tablet neer en gee vir jou kind ’n bietjie Purity of ’n opgekookte stuk blomkool of patat.

  • “Like” asseblief my “Marvin Borcherds­ Waai Met Suidooster”- blad op Facebook en kom skinder weer lekker volgende week saam!
Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters