Verlede maand
Mrs. J kry die nuus dat oompie Alzheimer’s het
Suidooster
Die akteurs van die sepie Suidooster gee nie om om ekstra woorde te leer vir die nuwe Vrydag-episodes nie.Foto: Verskaf  ~ 

DIT kos Uncle Pastor vir Mrs. J lekker spek skiet toe hy die October Drive se duties cancel, want hy gaan sien kamtig ’n polismakelaar, maar kaantie vaar hy die dokters se spreekkamers in.

Haai julle, die oompie is met Alzheimer’s gediagnoseer! Dit kan nooit maklik wees nie. Ek het gesien hy vergeet taamlik, maar dít het ek nie verwag nie!

Ek is heeltemal vir ’n ses geslaan. Nou imagine net hoe Mrs. J moes voel toe sy die nuus kry.

Die ou girl was nou die dag smoorverlief en nou sit niggie met ’n laatperskegesig. Ek blame haar egter nie. Dit kan ’n stryd word.

Dit lyk darem asof almal lekker ondersteun, so hulle sal sterk hierdeur vaar.

Hulle sal seker maar net ’n noot laer moet sing!

Mense, Vivienne is darem dikvellig. Dik hou is chocolates en chocolates gee tandpyn; ek weet nie hoekom sy dit nie weet nie!

Sy loop en vry die jeug aan die brand en toe wil sy stert tussen die bene terugkom?

Haalie-ha en Chris, bless his soul, is ’n Eveready-battery! Foei tog! Sy hart is tog só saggies. Ek was op hoër graad ver­pletter toe sy hom so vir ’n one vat.

Dis beslis beter dat hulle opgebreek het, want my bloeddruk sou dit nooit kon hou nie!

Al het Stefan nou ingetree en sy stem dik gemaak vir Bianca se snert, voel ek steeds die klong moes sommer dat Bianca die speekseltoets net daar voor hom gedoen het. Sy kry te veel draad.

As ek hy was, het sy nou reeds vir haar derde week rehab-kossies gechow. Ek laat nie so met my speel nie!

Wanneer ek eendag groot is, wil ek ’n vrou soos Michelle hê – God se waarheid! Hoe sy so verstaanbaar kan wees, gaan my verstand te bowe. Bianca het haar só lelik ingesê oor infertility, maar Mi­chelle hanteer dit soos ’n lady.

Sy loop daar uit met haar kop in die lug. Nou so! Lekker. Ordentlik.

Ek is dadelik op my knieë met ’n ring as ek ’n kans sou kry, maar nou ja ... Sy het mos nou vir Stefan, met wie daar alewig iets aan die gang is, en sy is aanhoudend gereed met ’n helpende hand! Dis ’n vreeslike vrou van Samaria hierdie – ek is oor haar.

Wie is dié Nina Richter? Wat maak sy in Ruiterbosch? Eers speel Wade tromme, nou hol hy met dié kumbaya-vroutjie in die rondte? Wat gaan hier aan?

Dalk moet ek ook die meditasie-besigheid probeer, want ek stres my toenka toe vir ál die geite van die Bosch!

Ek wil nie meer van Bianca praat nie, man. Sy luister eenvoudig net nie. Dis net daai pilletjies wat dit maak. Hoekom luister die vrou nie?

Sy praat soos ’n lap wat skeer – sê enige ding aan enige iemand en arme AB en Moena moet net terugval vir haar.

Sy is ’n bitter pil om te sluk! God weet dat ’n mens kan mielies plant in haar ore!

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters