29 dae gelede
Moenie soos Wolf deur Jakkals uitgevang word
richard september,akteur,suidooster
Bennie (Richard September) het vir Zoe van Anton gered.  ~ 

ANTON is darem ’n jakkals en ’n jakkals is ’n vieslike, afskuwelike, groteske skepsel! Dis deur dié man dat ek nou met ’n drupsakkie lê!

Ken julle die storie van Jakkals en Wolf wat die boer se botter gesteel het? Kom, ek vertel vir julle!

Eendag was daar ’n jakkals en ’n wolf. Die boer het hulle gevra om die skape op te pas.

Eendag besluit Jakkals om die boer se botter te steel. Hy maak toe vir Wolf op om hom te help steel.

Hulle maak toe ’n bet – hulle kan soveel botter eet as wat hulle wil, dan moet hulle gaan slaap en die een by wie se stêre die botter uitbraai, is die skuldige een as die boer hulle vang.

Hulle eet hulle toe trommeldik en gaan vat ’n middagslapie.

Jakkals word toe voor Wolf wakker en sien die botter het by hom uitgebraai en nie by Wolf nie en hy vat sy botter en smeer dit toe by Wolf se stêre.

Toe die boer later op hulle kom check, toe beskuldig hy vir Wolf met die hol vol botter!

Daar het almal gedink dis Bennie wat met die gladde stêre rondloop. Kaantie is dit die slymbol van ’n Anton wat in vyf verskillende inrigtings moet wees!

Dit kom nou wragtag daarvan as Adam sê dis Eva en Eva sê dis die slang! En dit bly Zoë wat gyselaar gehou word.

Is dit lekker om Zoë te vang, of hoe werk die besigheid?

Ek glo stellig as jy jou deure sluit, dan kan mense nie maklik inkom nie, maar nee. Die mense hoor en luister nie!

Gedorie, selfs die hekke van die hemel staan nie vir almal oop nie.

Wat laat die mense van Ruiterbosch dink hulle kan só regkom? Dis deure, met sleutels. Dis nie muisgaatjies nie!

Wanneer laas het Zoë haar pootjies in ’n kerkgebou gesit? Dis seker dié dat sy so oorkom.

Sit vir jou ’n hoed op, trek jou rok met die shoulder pads en stiff­ning aan, en sing ’n lied van lig!

Bianca wil nou vir Siya éérs hê! Blow die hare uit soos watse resiesperd se stert, bespreek tafels by ál wat ’n eetplek is in die Kaap en dit alles vir ’n man met oë wat dwaal? Loop kyk na jou kind.

Wanneer laas het jy die arme kind se kop gekam of ’n sny brood gegee? Jy neuk met die berk met hals en mag!

Danni voel dis haar beurt om gratis mediese raad te kry. Ja, wie’t dan nóú nog ’n sent oor vir ’n los antibiotika en glyce­rine? Nie sy nie!

Julle sal nou bitter vinnig vir Bianca moet wys waar Dawid die wortels gegrawe het, maar wees tog versigtig. Niggie raak so kwaad soos tien katte oor een muis!

Hierdie vreeslike ongemaklike Quintin laat my dink aan ’n seuntjie in my st. 1-klas. Hy’t my laat dink aan die kleur kakie. Wat op aarde is kakie behalwe grondboontjies, papiersakke, kots en sand? Ons kyk maar wat gebeur daar!

Maar koebaai, ons skinder weer!

Onthou om die blad “Marvin Borcherds Waai Met Suidooster” op Facebook te “like” en te “share”.

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters