2 maande gelede
Moena moet dua maak vir Wade se uitpassery
dean smith,suidooster
Suidooster se Wade  ~ Facebook

DAAR duik Bridgette in die bottel soos ek in die somer in die swembad duik – kop eerste!

Ek het geweet Ian se beroerte gaan vir haar ’n harde slag wees.

Die antie kan op ’n kol nie eens lekker by die trappe op nie, so dronk is sy. Genade, gelukkig ruk sy haar so effens reg vir die beelde!

Toe Zoë so teen Bridgette gal afgaan, het ek beslis gedink die meisiekind hou haar te groot.

Sy’t dit nog maklik gehad om met net ’n taai klap weg te kom.

My ma sou my met ’n slipper in lettergrepe gemoker het: “Hoe-kom-is-jy-so-dis-re-spek-vol-huh?” Tien houe, brandende boudjies, vier los trane en padda in my keel was my lot as ek nie my plek geken het nie!

Ek sê vandag twee keer asseblief en dankie net om seker te wees ek toon respek!

Die konfytflessie tussen die twee is darem nie heeltemal stukkend nie, net gechip.

Ek dink madam Zoë het besef as sy nie verskoning vra nie, is sy sommer sonder ’n werk ook.

Hulle sê mos geld wat stom is, maak reg wat krom is. Ek weet geheel en al nie wie hulle is nie, maar hulle sê so!

Stefan, wie se hart in sy skoene gesak het met Louis­ se heengaan en sy tronkvonnis, is nou ’n vryerige man!

Was dit nie vir Mrs. J wat haar kos laat uitval het nie, het Gloria nooit kans gekry om haar bag te djep nie. Dit beteken Stefan is reguit tjoekie toe. Hy is feitlik sy vryheid aan Mrs. J se lompheid en agtelosigheid verskuldig. Laat ek hom daai vertel!

Die Gloria wou niks sag kook nie, julle. Die vrou was so smoorkwaad, dit het gevoel ek moes tronk toe oor die manier waarop sy getuig het. Ek is net bly ons is oor die hond se stert!

Hoe op aarde kan ’n mens ná twee rylesse gaan uitpass? Is jy dan laf?! Jy moet mos dop!

Wade laat dit te maklik toe dat Ty hom om die bos lei en verneder. As hy my broer was, het hy al lank op die wasgoedlyn gehang, glo my vrylik!

Moena steek tog blad hier. Laat hy tog net hierdie lisensie kry, insha’Allah! Ons is moeg!

Vir wat sit daar weer sulke tonne skelme gedagtes in Tim se oë? Hy maak my diep ongemaklik.

Ek sweer daai hou teen die kop van daai morning is die rede dat hy deesdae so van die pad af is!

Iemand is lus om vir Lee-Ann uit te werk.

Die klong konkel vir jou planne. Met ’n gesig so reguit soos ’n plank staan en bedrieg hy ál wat mens en dier is. Hy is druk besig om knolle vir sitroene te verkoop, maar los hom!

Een van die mooi dae swaai Tim vir hom om in Ian se vreeslike professionele besigheidstoel, want in die land van die blindes is eenoog koning. Maar dit is hulle soort mense wat met die kous oor die kop huis toe kom.

Mark my words and I thank you!

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters