17 dae gelede
Merrim Bridgette sal van oor af moet begin
denise newman, bridgette october, suidooster
Denise Newman vertolk die rol van Bridgette October in Suidooster.  ~ Verskaf

KYK, soms vat ’n mens die lewe lelik in die gesig! Vandag dans jy in die reën en môre lê jy onder ’n verskriklik bedompige sandkombers!

Ek sê nie jy moet so ernstig soos ’n soldaat in opleiding deur die lewe gaan nie, maar wees tog net waaksaam dat dinge nie vir ewig hou nie. Kyk maar wat met Rhafiek en Bridgette gebeur het – laat hulle vir jou ’n les wees voordat jou gat soos ’n kool vuur brand!

Dit het vir arme Bridgette etlike jare van voorbereiding geverg om daai viper van ’n man van haar te los, maar ek wil ook nie te vinnig praat nie, want ek weet nie vir hoe lank sy uit Hart-potte wil eet terwyl sy gewoond is aan haar AMC Classics nie.

Dié vrou is hopeloos te lief vir die trappe in haar huis en ’n klerekas vol onderrokke as om weer van oor af nederig te leef!

Bridgette, my skattebol, los maar vir eers jou sirloin steaks en steek jou vurk in jou ma se oorskiet-koolkos – maak net seker daar’s ’n lekker klomp peper in.

Agteros kom ook in die kraal, suster. Jy sal weer jou voete vind – dalk nie vandag of môre nie, maar jy sal, dít betwyfel ek nie!

Hier naby my woon ’n lang, maer vrou wat rondloop in nagklere en ’n gevlekte kopdoek. Dit lyk asof sy nou net iets verwyder het.

Hierdie vrou loop al jare so rond en ek kom eers bietjie dag agter dis Ian se broer se vrou. Blykbaar is hy nes sy broer. So, Bridgette maak asseblief seker jy begin nie dié antie na-aap nie.

Die Octobers sal vir jou die mooiste prentjie sklider met maniere so lelik soos ’n stokvis se kop! Pasop!

Julle, is Justin aan die kêns word? ’n Mens kan vir hom niks sê nie, dan byt die leeu jou kop af!

Genade, ek is raadop vir die klong se bombastiese houding!

Ek is seker sy ouers het hom nie so grootgemaak nie. Arme Wade en kie moet op eierdoppe loop rondom die vent wat vir elke byvoeglike naamwoord wil kraam!

Ek weier om my so rond te laat sit deur ’n blote kind, is hy dan gek? Hy moet darem sy vuis vir my lig, ek gaan haal my neefs vir hom, hy sal sy ma verlang!

Dit pla my geweldig dat Carmen so penregop kan staan deur al die drama. Niggie koes nie eens vir al die koeëls wat na haar toe geskiet word nie.

Alle magtig, ek sou al lankal in my kar gespring en die langpad na rustigheid toe aangedurf het. Die Vader moet tog ’n ordentlike mens op my pad stuur voordat ek staan en trou, want ek het ’n siel van ’n baba-voëltjie, ek sal dit nooit kan hou nie!

Mense van die groot Kaap, hier steek Stefan ook weer kop uit in oranje klere en Michelle glimlag soos ’n kat wat room gesteel het.

Ek weet darem nie so mooi nie julle, waar is daai Gloria?

Roep haar, ek wil gou net iets by haar hoor!

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters