7 maande gelede
Mens kan sien Ian het nog nie ’n voet in ’n kerk gesit
gewild: Die tyd was reg vir Abduragmaan “Abdu” Adams op Suidooster. Foto: Donna Lewis  ~ 

MY WATER breek, my knieë swik, my lippe beweeg van mekaar af, ek snak na asem – die skobbejak Nina is uiteindelik in hegtenis geneem!

Dis die laaste sien van die blikkantien. Die engele kom sak vanuit die hemele neer, almal in Suid-Afrika hardloop in die rondte en juig. Die vrou is agter tralies. Orange is the new black!

Ek begin toe sommer in tale sing, skiet toe Guy Fawkes se laaste vyf klappertjies wat in die kombuiskas gebêre was en skink vir my ’n diep glas Multana – ek weet dit maak warm, maar dis al wat daar was!

Op ’n kol het ek gedink die tannie het kom vaskap in Ruiterbosch, maar toe maak sy haar diep laat.

Sy het geweet daar is ’n reuse-kans dat sy kan gaan mang, maar sy loop vang nog sulke onsin aan – liewe Heiland! Dom was nog nooit slim nie ...

Ons is net bly dat Suidooster Eiendomme darem nog in een stuk staan en dat ons nie vir Wade en Zoë onder die sandkombers moes toetrek nie. Dit sou ’n aardige storie gewees het.

So gepraat van die twee wat met die kous oor die kop tuiskom... Ian is glad nie hêppie nie.

Wade het geen ander keuse gehad as om pa te staan vir die gemors nie.

Ek weier mos baie beslis om van my so time and again ’n kleintjie te maak, maar Wade staan vir sy ding, want hulle is nou glad weer van oor af love birds. Kan jy nou meer?

Wade hoef net in Ian se rigting te kyk, dan wys Ian tande! ’n Mens kan sien hy’t nog nooit in sy lewe ’n voet in ’n kerk gesit nie.

Bianca kon so ’n tydjie gelede nie haar hande van ander mense se geld af gehou het nie. Nou sien sy kans om Carmen en Rhafiek se gawe donasie vir Stella se trust van die hand te wys?

Waar kry Moena die kind? Bianca is alewig links van die regering en kan altyd so ’n bohaai oor alles maak. Die mense doen vir jou ’n helse guns. Sak, Sarel!

Tim en Stefan het mekaar amper begrawe oor oom Willie se R300 000-skildery en daar gee hulle dit net so vir oom André weg.

Hy gaan dit kamtig hou vir memories! As julle weer sien, upload die man ’n pic op Facebook van hom wat in die Bahamas in sy onderbroek met ’n piña colada rondloop. Julle gaan spyt wees!

Net toe die Samsoedien-huisverkopers dink Stefan en Michelle kan dalk verhoed dat hulle huiswinkel moet opsit, val die aanbod dwarsdeur die mat. Hulle kan bly wees hulle vier nie Kersfees nie, want hoe sou hulle tong en soutvleis koop noudat dit broekskeur gaan?

Toe maar, as julle daai eerste huis verkoop kry, kom julle nie met die lag nie – klou net vas!

Carmen, moenie onnodig blomme koop nie. Koop brood.

  • Onthou om my Facebook-blad “Marvin Borcherds Waai met Suidooster” op Facebook te like en kom loer saam met my so ’n bietjie die mense van Ruiterbosch af!
Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters