21 dae gelede
Justin se inspuitings sal hom nog ver laat beland
eden claassen, justin, suidooster
Suidooster se Justin  ~ 

SIEN julle, ek en AB was julle dié goed voor! Moenie met vuil geld mors nie, dit laat mense verdrink! Hier sit ou Rhafiek nou met die gebakte pere oor hy hom wil doof hou soos ’n kwartel!

Eers val die kosse van die tafels af, dan val die portrette van die mure af en nou moet ’n ander ma haar kind begrawe – en dít alles omdat kinders nie na hulle ouers luister nie. Ons móét na ons ouers luister! Ons het ore daarvoor gekry.

Ek het op ’n kol gedink oom AB is onnodig, maar die lewe het my geleer as iemand wat ’n stem soos ’n koffiemeul het met jou praat, moet jy ag slaan.

Arme Carmen het nie geweet waarvoor sy haarself inlaat toe sy die dag besluit het sy wil ’n Samsodien wees nie. Eers kou sy klippe, eet rys vir aandete en verloor haar senuwees by die huiswinkel op die hoek en nou moet sy vure doodslaan asof dit haar lewenslange droom was om deel van die brandweer te wees!

Dag en nag sit ek op my maer knieë en dra die goddelose mense van Ruyterbosch op. Ek sing lofgesange uit volle bors in die kerk en lê so bleek soos ’n laken van al die spanning wat die mense vir my veroorsaak.

Hier sal ek die hele koor moet inspan, want dan val ek ten minste nie alleen ons Skepper lastig nie!

Mrs. J is so vies vir Ian en Chris soos ’n groep tieners wat ’n R20 geskarrel het vir ’n bier en dan laat val iemand daai bier stukkend. Die antie is boos verby!

Bridgette wil nóú die man los en ek sê haar nou al jare sy moet, maar niggie is mos die hardkoppigste in Suid-Afrika.

Ek sal my geluk nooit verruil vir ’n huis met trappe en ’n Rosie-vroutjie wat vir my kos maak nie. Sy moes hom al in 1999 gelos het. Sy skrik nou eers wakker en wil nou eers begin skop soos ’n afgeskeepte volstruis. Ek weet darem nie, die vrou maak my bitter con­fused!

Dis deur Lee-Ann dat arme Mrs. J nou met ’n laat perske-gesig rondloop. Die kinders besef nie watse leed hulle hul ouers aandoen deur nie te luister na hulle vermanings nie. Dit wil gedoen wees, I’m telling you!

As Justin nie môre ophou met daai inspuitings nie, lê hy oormôre in die Tygerberg-hospitaal. Of nog erger, hy steek lepel in die dak! Hier is groot stront aan die gang en ek wil niemand meer waarsku nie. Hulle luister in elk geval nie na my nie. So, wat baat dit ek sit en kekkel soos ’n hoender?

Rhafiek, ek kom nou terug na jou toe. Boetie, jy sal nou moet begin sluip. Donker oggend uit jou woonstel uit en in die nag weer terug. Nou sal jy moet wegkruip in winkels, agter bome staan en eet en agter pilare kuier.

As daai verdrinkte man se ouers jou opspoor ... Ek wil nie eens daaraan dink nie. Ek het van Koerland se vleis geëet. Die berg het sowaar ’n muis gebaar!

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters