15 dae gelede
Het die caviar nou al uit Lee-Ann se lyf getrek?
Portia Joel  ~ 

G’N WONDER dié Quinton-klonkie wil nie ’n vuurhoutjieboks sien nie! Hy’s bang hy verkool Michelle en Stefan soos rooikranshout by ’n Oujaarsaand-braai!

G’n wonder toe Chris die ander dag die vuur wil aansteek, toe hol nefie Gert soos ’n wafferse Usain Bolt deur die gange en gil soos ’n hoender wat op pad slagpale toe is nie. Nou maak alles sin.

Ek het gewonder wat so ’n reaksie kon ontlok. Kaantie dink die klein mannetjie hy’s die man van die krematorium, my heiland! Die Gerbers beter als wat brandbaar is in ’n tipe kluis toesluit en onder die grond bêre voordat hulle môre, oormôre houtskool is! Wyk, Satan!

Aanvanklik kon die kind nie boe of ba sê nie. Hy wil net speel onder tente wat van lakens gemaak word. Kerse en lakens is nie maats nie...

Michelle, blaas dood ál wat brand en skuif asse-god-blief net jou rys betyds van die stoof af.

Dinge gaan maar swaar in Ruiterbosch en niemand het geld om swart klere en vreeslike hoedens te koop om volgende Saterdag stadig agter julle kiste aan te loop nie.

Veral nie Bianca, wie se boekie al in die duisende rande by die Chinese ophoop nie! Niggie dink mos net niks aan die dag van môre nie. Dis mos net Siya wat die ding laat ruk!

Ek moet bieg hierdie week was die mense van die Bosch vir my vreemdelinge. Daar was net twee TV’s op die dorp – een by die dominee se huis en een by die shebeen vir die rugby.

So, ek kon nie lekker bybly nie, want by die dominee se huis gaan ek nie loop penregop sit en die leviete voorgelees word terwyl ek maar net vir ’n halfuur die skandes van die Oos-Wes bazaar wil sit en kyk nie.

Nog minder wil ek in die shebeen vertoef. Daar voer hulle ’n mens te veel bier in en my image is te belangrik om swaaiboude daarvandaan terug te keer. Toe los ek maar die hele besigheid net af!

Maar laas toe ek gecheck het, toe is Siya mos soos ’n mank mossie wat nie kan vlieg nie. So, dan lê jy mos daar sodat ’n barmhartige samaritaan jou kan optel en lappe om jou wonde draai. Hoe gaan dit met die dokter?

Het hy darem nou besluit of hy nou ’n instant-pa wil wees? Julle ken daai “just add water”-skepsels! Of sal Danni die bal deur die net kan gooi? Oe, die mense laat my gril soos God dit nie wil hê nie!

Ek is sommer lus en stuur ’n lid van die kerkraad na ál wat ’n deur is in die Ruiterbosch met ’n sielsreddingspamflet!

Het Lee-Ann darem nou al kalmeer? Het die grênd caviar wat haar so vreeslik houdings gee, nou al uit haar liggaam uit getrek?

’n Regte man is moeilik om aan te kom. Vra maar net vir die antie om die draai by ons wat my Donderdag ’n lift kom vra het sodat sy kan gaan shop vir haar 12de trourok! Moenie die duiwel so ’n kans gee nie – hy lag vir ons! Koebaai!

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters