5 maande gelede
G’n samoesa kom weer uit die Samsodien-huis
pla: Mymoena (Jill Levenberg) pes haar man om in ’n video te verskyn. foto verskaf  ~ 

WAT het Carmen besiel om Moena se vere só om te krap?

Die vrou was so smoorkwaad, ek het gedog sy gaan almal – insluitend Mrs. J – omduik! Die ongelooflik onopwindende kookkompetisie het alle tipes onmin gesaai.

Moena loop nou soos ’n tierwyfie in die rondte, terwyl Carmen feesvier soos iemand wat nou net met 17 onderskeidings matriek geslaag het. Kan jy nou meer!

Toe Mrs. J aankondig Moena verloor, skiet die arme gekweste vrou se kopdoek amper los, sy bewe soos ’n riet en sy kan ’n kat skiet van naar wees.

Ek het hierdie tietie nog nooit so boos gesien nie! Ek moes die TV channel change, want ek dog toe Moena gaan almal se goeters uitvloek en my 25-jarige kat sou dit nooit gemaak het tot die naweek toe nie. Moena smaak galbitter, pekelsout en asynsuur! Nie ’n dhaltjie of ’n samoesa kom weer uit daai Samsoedien-huis uit nie; Moena se hande is nou koeëlrond.

Mrs. J het uiteindelik gesien waar past. Ronald in PE bly. Haar suikervlakke is nou weer ordentlik en dit blyk die bloeddruk is onder beheer. Die antie het so te kere gegaan, ek’t meteens gedink ons loop volgende Saterdag in lang, swart rokke met shoulder pads en stiffening agter haar kis aan. Gelukkig toe nie. Niggie, kom nou by!

Ek wil weet hoekom Tim nie met Danni wil vasmaak nie? Die meisiekind skimp haar moeg en Tim is 50 skakerings van vaal.

Danni, gooi ’n lange, my girl. Jy sal jou nog nooit so kan laat lay-by nie. Tim is nog net niks lus vir huis opsit met jou nie – hy sit en teken liewer vir ander mense lodges. Jy sal jou ogies moet oopmaak, dametjie. Een van die dae is jy 80 en vol stof en sit jy nog op die rak vir die klong en wag. Ek waarsku jou maar net.

En wie is die mooi blonde meisie wat Ian weer laat hartjies sien? Hoekom herinner hierdie meisiekind my dan so aan Yolandi? Ek onthou dit nog soos gister: Yolandi vaar Ian se kantoor in met haar emerald-groen trench coat, oë vol moeilikheid, ’n brein vol stof en ’n sak vol planne om hom te seduce?

Dié Izette gee vir my só ’n reuk af, en dit ruik g’n lekker nie!

Hoeveel keer moet ’n mens dit beklemtoon? As jy dronk is, moenie agter die wiel inklim nie! Daar beswyk Louis aan sy wonde en morsdood is die knaap.

Hoe doen ’n mens daai? Stefan het daai morning klaar in die selletjies geslaap, en dit was maar net oor ’n paar biertjies. Hoe nou gemaak?

Geheime

Ek is asvaal geskrik toe ek hoor Louis is daarmee heen. Dit kos my ma om my twee taaies te gee om weer kleur in my wange te kry.

Stefan, ’n gewete wat pla, is ’n vieslike ding. Dit maak jou stokoud.

Vra net vir die antie wat om die draai van my woon. Sy loop met meer geheime rond as wat daar sand in die woestyn is. Niggie loop rond met opstaanskouertjies en ’n af­geremde lyfie. Gewete.

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters