22 dae gelede
Fiekie bietjie te flashy met daai grênd outings
Irshaad Ally is Rhafiek in Suidooster  ~ 

MOEDERAARDE! Zoë het drie doppe tequila, twee koppies chamomile-tee, vier Gupta-biere en drie kalmeerpille nodig om oor die feit te kom dat Wade haar so lekker stink gesê het.

Haalie ha! Hoe doen ’n mens daai? Dit lyk of hier g’n omdraaikans vir die twee is nie. Hier slaan ek alweer my oë op na die berge!

Van toelaat dat Nina hom soos putty hanteer, het hy nou nie eens ordentlike herberg nie. Daai beddegoed en klere van hom in die Health Studio ruik seker pure incense en bossies nadat hy heeldag na perskes en pruime geruik het.

Ty se druiwe is asynsuur. Niks kan hom opbeur nie.

Nie eens ’n volle masala-steak-gatsby nie. Ai, my ou klong, ons treur almal saam met jou.

Allemagtig, Nina dop die hele plek om! Dis hier ’n mossie wat gered moet word, daar ’n eendjie, hier ’n mier en daar ’n aalwynbossie!

Ons kan nou duidelik sien hierdie vroumens is op meer uit. Toe sy Suidooster Eiendomme die ander dag invaar en links en regs foto’s vat van die planne vir die Hamerkopvlei-projek, toe weet ek sommer haar bont varkie is weg. G’n mens kan so shiela saai nie, hayibo!

Hier’s ’n geitjie aan die gang.

Ons ken Wade as die saggeaarde, soet outjie wat nie ’n vlieg kon seermaak nie. Nou breek boetie fruity sommer ook soos ’n wafferse skelm in?

Ty lê snags wakker en bars ontydig in die mall in trane uit. Hy dink nog hy help, toe trek Wade hom ’n ernstige streep. Daai knaap is op van almal en alles. Hy het wraggies in Dikvelligvlei loop huis opsit. Gaan asseblief net huis toe. Jy maak ons almal diep vies!

Ek wil nie so op dieselfde aambeeld hamer nie, maar die bag het die skoot hoër deur as wat my hare in die foto’tjie hier bo is! Hy het kerke en masiete vol gebed nodig. Die antie maak sy gedagtes mock, man! Hoekom is haar naam dan Nina? Stefanie DiMera sou meer gepas gewees het.

Julle, die Liewe Heer daar bo in die blou hemele moet intree, anders lê iemand binnekort botstil in Tygerberg of onder die sand­kombers.

O, heng! Het Rhafiek die Lotto gewen, of is dit die provident fund wat die ding so laat ruk? Dis ’n trip Bora Bora toe hier en ’n vreeslike fancy ete daar. Deesdae is hy geld se baas!

Stadig oor die klippe, Fiekie, môre, oormôre is dit weer Salticrax sonder botter of ’n kasie. Los die Spur-toe-ganery en geite. Moet dit nie aan Carmen doen nie. Jy sien klaar hoe sy met daai Ian-man moet stoei vir ’n ou daggie se leave.

Verder hou Danni en Michelle dik met die gestorwe oom se besittings.

Daar’s maklik ’n treasure tussen die opgegaarde goed. Die gerties smaak weer seker ’n “rummy sale” hou vir ’n ekstra sentjie. Gaan vra by Rhafiek vir julle ’n clock. Hy het apparently baie!

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters