16 dae gelede
En toe hol ek soos ’n wafferse Wayde van Niekerk na my pa
frenemies: Danny (Vashti Prins) is alweer in ’n kompetisie met Zoe. foto verskaf  ~ 

DIT lyk nie vir my asof Danni swartgallig kan wees nie, al gebeur wát. Dis net maanskyn en rose, krulletjies en trose.

Die man staan onder jou venster, maar ag wat, dis seker ’n kat!

Omtrent so drie jaar gelede het ’n boef probeer inbreek by my kamervenster. Ek sê vir julle, as daar ’n prys was vir vas slaap snags, dan wen ek dit elke jaar.

Maar vir ’n verandering skrik ek daai nag wakker terwyl ek blink ogies sien wat sit en loer op my balkon! Ek seil soos ’n swanger slang by my bed af en hol soos Wayde van Niekerk na my pa toe.

Maar soos ek toe beweeg, hoor die oneerlike, geniepsige skepsel hoe my deur kraak. Hy spring toe soos ’n vlooi op ster­oids oor die muur en is tot vandag die bosveld in.

Die vieslike man wat nie wil werk nie en wat al my besittings wil gaps, het my soveel skade laat ly. Ek slaap nou nog, drie jaar later, met een en ’n halwe oë toe en daai los halwe oop.

Ek is deesdae so versigtig soos wat ’n kind is wat ’n visgraat gesluk het. Perrie, perrie?

Danni, jy sal moet wakker slaap! As die man jou in sy kloue kry, is jy ’n oorle’ mens en dit kan ons nie duld nie.

Is dit nou Bennie of is dit die pizza-draer in Oos-Wes? Ek is so verward soos ’n baba in ’n topless bar!

Hoekom is dit altyd Lee-Ann of Zoë wat die rotte so ruik? Wie bied hierdie tipe kursusse aan? Ek moet so ’n rot-ruik-kursus bywoon.

Genade, dis net hulle twee wat agterdogtigheid op hoër graad met meriete kan slaag. Daar is die vroumens se parfuum nou weg.

Bennie of Anton se onderbroeke ruik na laventel terwyl Zoë na plaasbokkie ruik. Dis nie regverdig nie, sy het duur betaal daarvoor.

Skuld seker nog vir Edgars R300 of so. In Iran kap hulle jou pootjies af as jy steel. Moenie soontoe wil gaan nie.

As Kaashifa die fout gemaak het om te veel kardemom in die breyani te gooi en dan aan Moena se deur loop klop om hulp, kon Moena dalk nog die besigheid red. Maar van ’n naaimasjien en some insit weet die tietie niks.

Daar kom Bridgette by die trappe af in ’n fluweelrok wat ’n st. 6-meisie sal pas. Styf en onaangenaam.

Die mense moet my nie eens met daai rok in my doodkis neuk nie. Skenk ons tog genade van Bo!

Almal is nou so behep met Bianca en Siya. Van die twee so sit en bewonder, skroei die hoender in die pot en die rys brand aan.

Skole

Ek betaal een en elk van julle ’n eenmalige bedrag as dinge tussen die twee tortelduifies gaan uitwerk, want ek vermoed dit gaan nie.

Bianca se manier met mans gaan nooit die geskiedenisboeke vir skole haal nie. So, kom ons mors minder tyd en fokus meer op ons kospotte.

Swart potte en aangebrande kos is tog te onplesierig.

Leef reg en sê koebaai vir Gloria en klein Albert, agga, Louis.

Ons skinder weer volgende week!

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters