4 maande gelede
Ek lê snags en wonder oor Tim se kinderlewe
Marco Spaumer speel die rol van Tim in Suidooster.  ~ 

MICHELLE was heeltyd so voorbeeldig soos iemand wat vir Mej. Suid-Afrika wil inskryf, maar my gits, deesdae ...

Kyk, as jy stokkies draai of in die middel van die nag regoor die land wil vlieg om ’n paar ouens te sien kopskud en tromme slaan, moet jy daarmee reken dat jy dalk jou werk kwyt kan wees.

Dis Stefan wat haar al die snaakse goed laat aanvang wat haar so geweldig uitput! Die vrou kan haar lag nie hou nie en nog minder kan sy haar oë oophou!

As jy sien, lê jou ma soos groente in ’n mandjie; tjoepstil en vas aan die slaap van wil kerjakker!

Nee, meisie, jy sal jou bearings moet kry. Jy was 15 jaar gelede 18.

Dra die boodskap sommer aan jou wispelturige man ook oor. Bou ’n nes!

As Wade nie teen môre sy lisensie kry nie, dan stel ek hom persoonlik voor aan my traffic cop-vriendin.

Sy hou van lekker eet en bier drink. So, as hy haar glas kan klam hou en met ’n stuk gatsby by haar aankom, is hy teen Dinsdagaand legal!

Dié meisie is maar eenvoudig en help graag die gemeenskap – een bier op ’n slag!

Is Ty meer ontevrede dat Wade en Moena nie chise nie of omdat hy nie meer die rylesse kan aanbied nie?

Ek is ses voet diep confused en ek was ook nog nooit ’n fan van ’n sirkus nie ...

Die kamstige load shedding wat Tim uitgevoer het, gaan hom duur te staan kom. Hy dink mos hy’s slim. ’n Mens kan nog nooit só honger wil wees vir mag en beheer nie. Nie ’n mens nie!

Ek lê en wonder snags oor dié knapie. Ek het vrae. Was sy ouers afsydig? Waar het hy skool gegaan? Wie was sy st. 1-onnie?

Toe hy 13 word, wie was rondom hom en wat het hulle gesê? Het hy as kind te ver van ’n kerk af gebly? Is dit dié dat hy so moedswillig en goddeloos is? Niemand kan hierdie vrae vir my beantwoord nie.

Dit maak dat ek ongeskik raak met almal met wie ek in aanraking kom! Dis deur hom dat ek maand ná maand douvoordag by die daghospitaal moet loop sit vir my pille! Dis hy!

Ek wonder hoe gaan Danni nou maak met ’n blyplek. Dit smaak my Michelle en Stefan se matrasse se drade steek nou deur.

Ek het ’n vermoede so sterk soos tien osse dat iemand anders (in hulle vriendekring) behalwe Tim vir haar ’n plekkie gaan bied en dit gaan ons almal vir ’n ses slaan.

Het julle gesien hoe mik arme Bridge na daai wynbottel? Dit lyk asof die bottel kan praat en haar herhaaldelik geroep het! Foei tog.

Ek kry die vroumens vreeslik jammer! Haar seun is oorlede. Haar man het haar verneuk met ál wat ’n skirt dra. Haar dogter sit in Amerika. Ál wat sy het, is ’n leë huis en ’n oorgedoende kantoor.

G’n wonder sy dip eers by Tops in voordat sy lodge toe gaan nie.

Nana, môre sal die son weer skyn. Miswolke sal dan verdwyn!

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters