7 dae gelede
Die lewe het vir Stefan en Michelle net niks lief nie
Die bekroonde akteur Gideon Lombard. FOTO Suidooster  ~ 

EK WEET nie vir een sekonde wat oor Wade se lewe gekom het nie.

Is die klong besete met die duiwel? Goeie genugtig, ek kan nie deal nie, nie ek nie!

Ons het amper tot Krismis gewag dat hy sy licence moet kry en nou loop vang hy sulke stront aan.

Hy laat dit wraggies toe dat ’n kaalkop-klong wat lyk asof hy op ’n winkelhoek staan, hom so liederlik beïnvloed! Nou moet hy met modder gevlekte klere by die huis aankom en al wat ’n mens is dodge.

’n Mens noem dít waansinnigheid op hoër graad!

Wie is die slinkse meisie wat haar verskyning gemaak het?

Sy laat my dink aan daai wilde meisies wat net wil vuis slaan nadat hulle byna alleen ’n 5F Namaqua-kraantjie uitgedrink het by die shebeen om die draai waar die muise en mense almal saam kuier.

Ek gril my dood vir hierdie tipe gedrag! Ek wonder wat sou haar ma sê as sy sou sien hoe haar geliefde dogter die manne verlei.

Dis hierdie soort mense wat ’n mens dwing om jou pastoor op speed dial te hê!

Arme Zoë is in ’n vreeslike papte oor haar oom se toestand!

Dis rof in die strate van Ruiterbosch – almal is in rep en roer. Iemand wil vir iemand moer!

Tim is alweer so rats met sy beledigings asof dit in sy kontrak voorgeskryf is.

Vir reddingsdoeleindes is ek maar bly Chris het weer met sy weggehardloopte ou lyf daar aangekom met ’n plan van aksie om die Ian-man se besigheid te red. Want genade, amper loop haal Tim vir Eben agter die berg uit!

Julle, as Eben weer daar moet opdaag, bak Moena mos weer 16 koeke en 300 samoesas per dag!

Ek weet nie wie haar geleer het dat dit noodsaaklik is om jou eerste liefde vol olierige kos te stop nie. ’n Mens noem dit pure moedswilligheid!

Hoekom is die Pierre-man steeds so aan die gang? Hoekom het niemand die krag om hom uit te roei nie? Wat gooi hy in die mense se vreetsels dat niemand hom voor die bors kan gryp nie?

Ek het ’n hardcover-boek vol vrae! Hulle kan almal bly wees ek woon nie daar rond nie, want anders was daar vir jou emmers vol stront dat die honde huil!

Net toe ons dink Michelle is met die lyf, moet ons uitvind daar sal nooit ’n enkele pienkvoetjie in daai huis verskyn nie.

Stefan is so stomgeslaan. Ek is oortuig hy was lus om in ’n koma te sak. Foei tog, my hart breek in kwarte vir die paartjie se einde­lose uitdagings. Die lewe het die twee net niks lief nie. En dit maak my briesend kwaad, want hierdie meisiekind sal eintlik ’n lekker moedertjie maak.

Hoekom is dit altyd die soort wat die biere suip totdat hulle tiep wat geseën word met ’n baba?

Ek is die mees confusede padda in die vlei, maar nou ja, dis maar nou klaar wat dit so is!

Wag julle, ons skinder weer volgende week oor hierdie vreeslike tralala-mense!

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters