2 maande gelede
Die antwoord op die Gerbers se gebede kom met ’n kwaal
suidooster
Michelle en Stefan Gerber in Suidooster.  ~ Suidooster

DAAR moet Frankie in die selletjies sit van met ’n kort stokkie aan die leeu se bal wil krap!

Dié mense is uit die staanspoor slegte nuus vir die hele same­lewing. Mercedes kom daar ingevlieg en kom sit op ál wat ’n swakkeling is se kop asof sy ’n prys gaan wen vir ondeund wees!

Laas Vrydag terwyl ek stadig verby die antie om die draai se huis ry, sien ek hoe jaag sy die kinders wat haar appelliefies van die boom af probeer steel.

Daai antie was kwaad se baas en ek het lanklaas iemand só boos gesien! Ruiterbosch makeer so ’n vieslike antie om Mercedes en Frankie weg te jaag! Hulle maak almal briesend! Wyk, Satan!

Wie gaan nou die HR doen noudat Bridgette vir Lee-Ann weggejaag het? Waar gaan Lee-Ann ’n sent kry om haar laai-laai lewe te finansier? Verdien Ty genoeg geld om vir Lee-Ann bont rokke en rooi lipstiffie te koop? Of moet Lee-Ann elke aand gatsby en 50c chips sit en eet en teen Oktober opgeneem word vir nierversaking?

Bridgette wil so verkeerd leef! Dit lyk sy kry maandeliks ’n salaris vir onbeskof wees!

Ek sê vir julle vandag: Niggie is rouer as ’n stuk vleis in Boeta Gamat se slaghuis! In my geestesoog sien ek iewers ’n taai klap!

Pierre sit daar soos ’n sakkie appels by ’n markie terwyl Brid­gette vir Lee-Ann uittrap! Hy het besef deur sy bek te hou, kan dit vir hom geld in die sak bring.

Een van die dae teken hy kontrakte af omdat Bridgette hartjies en feetjies sien soos watter st. 7-meisiekind! Dié tipe goed gee my ’n tipe ongemak waarin ’n mens met ’n pee of popo in verkeer sit!

Die vreeslike kort maatskaplike werker is so vol houdings dit lyk of die staat haar môre as direkteur van hardegatgeid gaan aanstel.

Nee, vroumens, jy sal jou moet gedra en jou plek ken! Ek is bly AB het vuur in haar rigting gespoeg. Sy het ’n tik oor die vingers nodig. Lawwe meid!

Dit smaak my Michelle en Stefan se drome vir ’n pienkvoetjie het toe waar geword toe Gloria daar met ’n vreeslike bruin rok instorm.

Ek weet nie of die materiaal bruin is en of die rok vuil is nie. Ek lê en droom snags daaroor, want dit pla my geweldig!

Die vrou is so siek soos 18 honde gelyktydig oor sy haar sterre in die wind gesteek het. Sy kon nou lekker in die Gerber-huis voetjies in die lug gesit het, maar nee, ons wil kwaad wees.

Van kwaad wees kom jy met wilde hare en ’n kardoes-rok bakhand daar aan. Laat dit vir mense ’n les wees. Moenie kwaad wees nie; jou voorkoms ly daaronder! Vrede kam ’n mens se kop!

Oor twee jaar sê Gloria se kind vir Michelle “Mamma” in ’n tipe aksent wat die biologiese ma met ’n woordeboek moet opsoek. Die Here moet my lewendig hou om daai dag te gewaar!

Koebaai, julle skinderpotte!

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters