23 dae gelede
Danni die lopende vuvuzela sal mos nooit ’n skelm vang
Vashti Prins is Danni in Suidooster.  ~ 

EK IS oortuig Gloria sou vir Michelle ’n taai klap gegee het as Michelle haar nog net ’n klein bietjie harder verskree het!

Ek sal my nog nooit so laat verskree nie – en dit nogal oor my eie kind? Is jy jammer? Waar kom sy só reg? Nou net daaroor verdien sy ’n dooie rot in haar handsak.

Jy praat ordentlik met jou medemens. Dit staan in die Bybel so geskryf!

As jy wat Gloria is, maar net jou lang vingers vir ’n dag kon korter kap, was Mrs. J se beursie onaangeraak gelaat en dan sou die diefstal glad nie teen jou getel het nie!

Hoekom het jy nie daai dag vuil vensters by ’n lui antie gaan was nie? Of hoekom het jy nie loop grassies uittrek by ’n oompie wat te veel sit en rook en bevele uitgee oor sy tuin nie?

Maar ag wat, jy sal in elk geval die een of ander tyd ’n draaitjie by die tjoekie moes gaan maak, want ’n jakkals wat slaap, tel mos in sy drome steeds die hoenders!

Ons almal ken en verstaan Gloria se penarie. Sy was in ’n tunablik gedruk en het ’n oorhaastige besluit gemaak.

’n Mens kan mos nie ’n ander mens ernstig opneem as hy op sy kwesbaarste is nie, of hoe?

Nee! Dis hoekom ’n mens ook nie dronk mense kan vertrou nie.

Los maar liewerster vir Satan. Hy het mos nie vir jou ’n hemel nie!

Waar kry Gloria so aanhoudend taxi fare om mall toe te ry en mense te loop en bekruip? Bly in jou nes en jy bly ongekwes, maar nee. Ek sê vir julle: Dis nuuskierigheid wat ’n mens swanger maak! Hier’s hopeloos te veel mense wat wonder.

As jy ’n romantiese aand saam met jou wederhelfte beplan, moet jy soveel moeite in jou kos sit soos met jou voorkoms. Genade!

Daar stuur Bianca amper vir Siya ICU toe, en dit oor niertjies! Van na Carmen wil luister loop en braak jou kêrel in die tuin!

Jy kon net daai lamskerrie gemaak het. Toe neuk jy met die steak-en-kidney-saak! Moet nooit weer na Carmen luister nie. Sy het ’n man; jy doen nog aansoek!

Ek probeer met al my breinselle dink hoe Zoë Danni kan stilmaak wanneer sy met hakkies op houtvloere loop om te luister waar die skelm is. Hakke is hout se vyand.

Jy raas, my skapie! Jy skop jou skoene uit en loop soos ’n trapsoetjies! Hoe maak jy iemand anders stil terwyl jy ’n lopende vuvuzela is? Niks omtrent die besigheid verstaan ek nie. Niks!

Die nuwe klong wat by Oos-Wes pizzas aandra, is vir my so glibberig soos daai paddavissies wat ons as kinders probeer vang het.

Ek het nie ’n enkele ene gevang nie. Al my probeerslae is seker nou al vet, uitgegroeide groen paddas!

Ek ruik lont en my siel skud van ongemak!

Arme Danni moet ook alewig aan die agterspeen suig.

As daardie man Danni seermaak, slaan ek persoonlik ’n tonnel deur sy bors. Daar sal nie eens tyd wees vir bloei nie!

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters