4 maande gelede
Daai leë huis laat Tim se koppie lekker raas
Vashti en Marco Spaumer, wat haar kêrel in Suidoos
Vashti en Marco Spaumer, wat haar kêrel in Suidooster speel. Foto: Facebook/@suidooster  ~ 

IAN se hospitaal-lêer is nog nie eens behoorlik ingevul nie, maar Bridgette sien kans om ogies te maak vir ’n lang man met 501 Levi jeans aan!

Die hele situasie is so grillerig soos ’n akkedis, ’n muis en drie kokkerotte!

As dit nie vir Mrs. J en haar ernstige behoefte aan geselskap was nie, het Bridgette nooit haar mansion verlaat en in Pierre se bakkies vasgeloop nie!

Bridgette moet besef sy’s nog wettig getroud. Ja, vrou, jou papiere is gedruk en getik tot binne-in Pretoria.

Maar as ’n mens mos vir haar iets wil sê, kyk sy jou skeef aan en spoeg vuur asof sy oornag in ’n draak verander het.

Ek hou liewer my smoel voordat hulle sê ek het so gesê!

Tim is nou so opgemaak met sy 5%-aandeel in Suidooster Eiendomme­ dat hy amper ’n byl kan vat en almal se koppe afkap oor hy nog ’n monsteragtige gebou in ’n klein gebied wil hê. As hy sy mond oopmaak, praat hy Grieks.

As hy snags aan die slaap raak, word die duiwel van voor af vies, want wie gaan dan nou die konkelwerk doen? Ek dink dis daai leë huis wat sy kop so laat raas.

Wie is beskikbaar om hierdie man te leer mediteer of tuinmaak of om hom kerk toe te vat? Giftige geitjies het dit nodig.

Dit gee my die horries dat Lee-Ann nie sy “dagga” kan uitsnuffel nie.

Sy kan almal vastrek soos watse FBI, maar kan nie die rot in die kantoor ruik nie? Dit los oop wonde op my sagte vel!

Halie-ha, wat makeer Mymoena? Niggie is permie in een of ander kompetisie. Kan jy nou meer?

Eers was dit Carmen, toe Kaashifa en nou Tyron.

Dit kom nou van ledig wees.

Wanneer laas het sy die apteek se boeke gedoen? Sy sien kans vir rylesse en karre stamp.

Ek wens ’n mens kon jou rybewys oor die toonbank koop soos ’n Coke of 5F Namaqua. Dan het ek Wade al daai morning gestuur met ’n paar honderd rand!

Hoekom lyk dit asof Lee-Ann en Ty se liefdesverhaal aan ’n flenter hang? Hulle speel nou kastig TV games vir quality time so asof Tekken 3 sal maak dat die baksteenman nie bel nie! Meisie, pasop! Jy sal moet regsê voordat hy oor die onderdeur begin loer!

Wat is aan die gang met Stefan, wat so met sy siel onder die arm loop? Hy gee my ’n tipe ongemak en frustrasie wat ’n muis seker voel as hy sien sy kaas word op ’n valletjie bedien!

Sy planne skiet op soos paddastoele en dít net omdat hy vir ses of sewe minute in die tronk was.

Die dominee sal hier moet intree, want nie ’n enkele sielkun­dige in die Kaap sien hiervoor kans nie!

En hoeveel keer moet die man Michelle dan vra om te trou? Drie keer? My gits, hier sit ek van 1960 af en wag dat iemand my net op ’n date moet uitvra!

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters