6 dae gelede
Daai giftige Sharon se byt kom van nature
Sharon
 ~ 

EK WEET nie wat my die bangste van Sharon maak nie; die tiervel-rokke óf dat sy vir my brandewyn gaan injaag in ’n appelsap-bottel. Ek kan nie meer sien hoe dié vrou besig is om al wat leef en beef, se lewe te vernietig met haar ongelooflike sekslus en skeermes-mond nie.

Sy bly verniet by mense, sy suip hulle drank op, loop skuins bed toe en ly aan ’n tipe babelas wat ’n mens kry as jy 13 jaar oud is en jou dronk oom se Lerk drink – die vroumens is in die bol gepik. Selfs arme Mymoena moet ook ’n dop drink, genade is my redding!

Ek lewe in spanning soos ’n muis wat weet daar’s ’n kat in die huis.

My mond is heeldag opgetrek in ’n tipe glimlag wat ’n verpleegster bêre vir ’n baie siek pasiënt.

Dis alles haar skuld!

Verder wil sy by Ty se werk gaan uitsteek as ontvangsdame. Dink jou in jy gaan book jou kar in vir ’n diens en sy is die eerste persoon wat jy sien? My linkeroog sal mos tot volgende week Woensdag spring en my nagmerries in rye staan en wag op my. Jou krag móét trip!

AB gaan nou so tekere oor die geld wat vir Rhafiek en Carmen ’n lodge in die hel gaan koop, maar vergeet skoons dat hy daagliks chemicals en pille aan mense verskaf wat dink hulle word daarvan gesond, maar kaantie bekruip die dood hulle elke dag ’n bietjie meer.

Die oompie sal voor sy eie deur moet vee met sy kort, stukkende besempie.

Rhafiek moet glad in die lug loop, so bang is hy vir die toppie! Los die kinders, man, laat hulle vir julle lekker kreef koop en op bootritte neem, gits!

Ek wil al vir my so uitsit, en dít oor geld!

Ek sit en dink nogal nou die dag hoekom niemand iets van pastor Ronald noem nie. Mrs J, hêppie Mother’s Day, sal nie eers bel om hello te sê nie. Dié dat die mense blerriewil so vir spek en bone trou, maak my vies!

Wag, kom ons spring gou weer na Sharon toe!

Daar was eendag ’n man wat ’n slang in die sneeu opgetel het. Die reptiel was gevries, maar het darem nog gelewe.

Die man vat toe die slang huis toe en sit hom langs die vuur neer met ’n bakkie kos en die hoop dat die slang sal ontdooi en sy kossies vreet.

’n Uur of so later loop die man weer ’n draai by die slang en toe pik die slang hom.

Geskok sê die man: “Haai, slang, hoekom pik jy my?

Kaalkop

“Ek was nog net goed vir jou. Ek bied vir jou herberg en gee vir jou kos, maar dis wat jy doen?”

Die slang gee die man toe een vuil kyk en sê: “Jou onnosel! Toe jy my gered het, het jy mos geweet ek is ’n slang. Ons pik – dis in ons natuur!”

Ja, ek sal julle kaalkop die waarheid sê! Ian, daarmee staan ek terug!

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters